Lukas 22:7-22

Lukas 22:7-22 ABA

Dit was die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood. Daardie dag moes die mense die paaslam slag. Toe stuur Jesus vir Petrus en Johannes en Hy sê vir hulle: “Gaan maak vir ons die Paas-ete gereed sodat ons dit kan eet.” Die twee dissipels het vir Jesus gevra: “Waar wil U hê moet ons die ete gaan gereedmaak?” Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, dan sal 'n man na julle toe kom wat water in 'n kruik dra. Gaan saam met hom in die huis waar hy ingaan. Dan sê julle vir die eienaar van daardie huis: Ons Meneer vra waar die kamer is waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet. Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat ons moet hê vir die ete, is daar. Julle moet alles daar gereedmaak vir die Paas-ete.” Die dissipels het gegaan, en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit die regte tyd was, het Jesus by die tafel gaan sit en die apostels, die dissipels, het saam met Hom gaan sit. Jesus het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Paas-ete saam met julle eet voordat Ek swaarkry. Ek sê vir julle Ek sal dit nooit weer eet nie totdat almal sal weet dat God Koning is en almal sal weet wat hierdie Paas-ete beteken.” Toe het Jesus 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het vir die apostels gesê: “Neem die beker wyn en drink almal daaruit, want Ek sê vir julle, Ek sal nie weer wyn drink nie totdat almal sal weet dat God Koning is.” Jesus het toe brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy apostels gegee. Hy het gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Elke maal wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.” Nadat hulle geëet het, het Jesus 'n beker wyn geneem. Hy het gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir julle sal vloei, is die bloed van die nuwe verbond. Maar kyk, die man wat My sal verraai, eet saam met My by hierdie tafel. Dit is waar dat Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos God besluit het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry.”