Jesus was besig om 'n duiwel uit 'n man te jaag. Die duiwel het die man stom gemaak. Nadat die duiwel uitgegaan het, kon die man weer praat. Al die mense was verbaas. Maar party mense het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.”
Ander mense wou vir Jesus toets, hulle wou hê Jesus moet bewys dat Hy van God kom. Hulle wou hê Hy moet vir hulle 'n wonderteken wys. Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en daarom het Hy vir hulle gesê: “Vyande sal enige land oorwin waar die mense nie met mekaar kan saamwerk nie. Hulle sal al die huise afbreek, die een huis ná die ander huis. As die Satan teen homself is, dan kan hy niks meer doen nie en hy kan oor niemand regeer nie. Julle sê Beëlsebul help My om die duiwels uit te jaag. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help vir julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is. Dit is die krag van God wat My help om duiwels uit te jaag. Dit bewys dat God die Koning is wat begin het om oor julle te regeer. 'n Sterk man wat baie wapens het en wat sy huis goed oppas, sy goed is veilig. Maar as 'n ander man wat sterker is, hom aanval en wen, dan vat die sterker man al die wapens wat die sterk man gedink het sal hom help en beskerm. Dan gee die sterker man alles wat hy gevat het, vir ander mense. Iemand wat nie vir My is nie, is teen My. Iemand wat My nie help om mense na God toe te bring nie, jaag die mense weg van Hom.”
“Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek 'n plek waar hy kan woon. As hy nie 'n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, die mens in wie ek gewoon het.’ Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos 'n huis wat skoon en netjies is. Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle gaan almal saam, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was.”
Toe Jesus hierdie dinge sê, het 'n vrou wat tussen die mense was, hard vir Hom gesê: “Die vrou wat vir U in haar liggaam gedra het, en wat vir U aan haar bors laat drink het, daardie vrou is baie gelukkig.”
Maar Jesus het gesê: “Die mense wat waarlik gelukkig is, is die mense wat die woord van God hoor en doen wat God wil hê.”
Meer en meer mense het rondom Jesus kom staan. Jesus het begin praat en Hy het gesê: “Die slegte mense wat nou lewe, wil 'n wonderteken hê, hulle wil 'n bewys sien. Maar God sal nie vir hulle 'n wonderteken wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, dit is die teken van Jona. Jona was 'n teken vir die mense van die stad Nineve, en so sal Ek, die Seun van die mens, ook vir julle 'n teken wees. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona.”