Johannes 7:1-30

Johannes 7:1-30 ABA

Jesus het toe na baie plekke in die provinsie Galilea gegaan. Hy wou nie na die provinsie Judea gaan nie, want die Jode wou Hom daar doodmaak. Die Jode se Hutte-fees was naby. Jesus se broers het vir Hom gesê: “Jy moet hier weggaan en na Judea gaan. Dan kan jou dissipels die wonderwerke sien wat jy doen. Dit help nie 'n mens doen iets waar niemand dit kan sien nie, want dan moet jy nie dink almal sal weet van jou nie. Wanneer jy hierdie wonderwerke doen, moet jy dit só doen dat al die mense kan sien dit is jý wat dit doen.” Jesus se broers het nie in Hom geglo nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is nog nie my tyd nie. Julle doen met julle tyd wat julle wil. Die mense van die wêreld kan julle nie haat nie, maar hulle haat My, want Ek sê hulle doen slegte dinge. Julle kan na die fees gaan. Ek gaan nie na die fees nie, want dit is nog nie my tyd nie.” Nadat Jesus dit alles vir sy broers gesê het, het Hy in die provinsie Galilea gebly. Jesus se broers het na die fees gegaan. Later het Jesus self ook na die fees gegaan, maar die mense het dit nie geweet nie. Daar by die fees het die Jode na Jesus gesoek. Hulle het gevra: “Waar is daardie man?” Die mense het baie oor Jesus gepraat. Party mense het gesê: “Jesus is 'n goeie man.” Ander mense het gesê: “Nee, hy lieg vir die mense.” Die mense het nie hard gesê wat hulle van Jesus dink nie, hulle wou nie hê die Jode moet dit hoor nie, want hulle was bang vir die Jode. Op die vierde dag van die fees het Jesus na die tempel gegaan en Hy het vir die mense begin leer. Die Jode was verbaas. Hulle het gesê: “Niemand het vir hierdie man geleer nie. Hoe weet hy so baie dinge?” Jesus het vir hulle gesê: “Dit wat Ek vir julle leer, kom nie van My nie. Dit kom van God wat My na die wêreld gestuur het. Iemand wat doen wat God wil hê, sal weet of die dinge wat Ek vir julle leer, van God kom en of dit van Myself kom. Iemand wat vir ander mense dinge leer wat van homself kom, doen dit sodat die mense kan dink hy is belangrik. Ek doen dit nie. Ek wil hê dat die mense moet weet God is belangrik, God wat My na die wêreld gestuur het. Daarom kan die mense My glo. Ek is nie vals nie. Moses het vir julle wette gegee, maar nie een van julle doen wat die wette sê nie. Hoekom probeer julle My doodmaak?” Die mense het vir Jesus gesê: “Jy is mal, niemand probeer jou doodmaak nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek het net een wonderwerk gedoen, en julle is verbaas omdat Ek dit op die Sabbatdag gedoen het. Moses het vir julle geleer om julle seuns te besny. Maar dit was nie net Moses nie, julle voorvaders het dit ook gedoen. En julle besny ook partymaal seuns op die Sabbatdag. Julle besny iemand op die Sabbatdag om gehoorsaam te wees aan die Wette van Moses. Hoekom is julle nou kwaad vir My wanneer Ek 'n mens se hele liggaam op die Sabbatdag gesond maak? Julle moenie na iemand se buitekant kyk en dan sê hy doen verkeerd nie. Julle moet regverdig wees.” Party van die mense in Jerusalem het gesê: “Daar is die man, die mense wil hom doodmaak. Hier praat hy nou voor al die mense en niemand sê hy praat verkeerd nie. Miskien dink die leiers hy is die Christus. Maar hierdie man kan nie die Christus wees nie, want ons weet van waar hy kom. Wanneer die Christus kom, dan sal niemand weet van waar Hy kom nie.” Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het hard gesê: “Julle sê julle ken My en julle weet van waar Ek kom. Dit is nie waar nie. Ek het nie self besluit om na die wêreld te kom nie, God het My gestuur. Wat Hy doen, is reg. Maar julle ken Hom nie. Ek ken Hom, want Ek kom van Hom. Dit is Hy wat My gestuur het.” Toe het die mense probeer om Jesus te vang, maar niemand kon dit doen nie. Dit was nog nie sy tyd nie.