Johannes 6:1-10

Johannes 6:1-10 ABA

Jesus het na die ander kant van die See van Galilea gegaan. Die mense het dit ook die See van Tiberias genoem. Baie mense het saam met Jesus gegaan, want hulle het die wondertekens gesien toe Hy siek mense gesond gemaak het. Jesus het teen die berg opgegaan en Hy en sy dissipels het daar gaan sit. Die Joodse Paasfees was naby. Jesus het gesien baie mense kom na Hom toe. Toe sê Hy vir Filippus: “Waar gaan ons brood koop vir al hierdie mense om te eet?” Jesus het dit gesê omdat Hy wou kyk wat Filippus gaan doen. Jesus het klaar geweet wat Hy gaan doen. Filippus het vir Jesus gesê: “As ons 200 silwer geldstukke het, sal dit te min wees om vir elkeen van hierdie mense 'n stukkie brood te koop.” Simon Petrus se broer, Andreas, was een van Jesus se dissipels. Hy het vir Jesus gesê: “Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee visse het, maar dit is te min vir so baie mense.” Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle moet vir die mense sê hulle moet gaan sit.” Daar was genoeg gras waarop die mense kon sit. Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000.