Johannes 20:24-31

Johannes 20:24-31 ABA

Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom “Tweeling” genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: “Ons het die Here gesien.” Tomas het vir hulle gesê: “Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.” 'n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Toe sê Hy vir Tomas: “Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo!” Tomas het vir Jesus gesê: “U is my Here en my God!” Jesus sê toe vir hom: “Jy het My nou gesien, daarom glo jy. Maar die mense wat My nie sien nie en wat in My glo, hulle sal regtig gelukkig wees.” Jesus het nog baie ander wondertekens gedoen wat die dissipels gesien het, maar julle lees nie van daardie wondertekens in hierdie boek nie. Maar die wondertekens waarvan julle in hierdie boek lees, is geskryf sodat julle kan glo Jesus is die Christus, die Seun van God. Dit is geskryf sodat julle die ewige lewe kan kry omdat julle aan Hom behoort.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid