Genesis 13:5-18

Genesis 13:5-18 ABA

Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook skape en bokke, beeste en tente gehad. Daar was nie genoeg grond vir Abram en Lot saam nie. Hulle kon nie bymekaar woon nie, want hulle het te veel diere en ander goed gehad. Abram en Lot se skaapwagters het met mekaar gestry en rusie gemaak. In daardie tyd het die Kanaäniete en Feresiete ook in die land gewoon. Abram sê toe vir Lot: “Ek en jy moenie met mekaar stry en rusie maak nie, en ook nie my skaapwagters met joune nie, want ons is familie. Die hele land lê oop voor jou. Ons moet weggaan van mekaar. As jy links gaan, dan sal ek regs gaan, of as jy regs gaan, dan sal ek links gaan.” Lot het rondgekyk en gesien daar is baie water by die stad Soar in die suide van die Jordaan-vallei. Dit het gelyk soos 'n tuin van die Here, en soos in Egipte. Dit was voordat die Here vir Sodom en Gomorra verwoes het. Lot het toe die Jordaan-vallei vir homself gekies en hy het oos getrek. So het Lot weggegaan van Abram. Abram het in Kanaän gewoon en Lot het by die stede in die suide van die Jordaan-vallei gaan woon. Hy het tot by die stad Sodom getrek en sy tente daar opgeslaan. Die mense van Sodom was baie sleg en hulle het baie sonde gedoen. Nadat Lot weggegaan het van Abram, het die Here vir Abram gesê: “Kyk rondom jou. Kyk noord, kyk suid, kyk oos, kyk wes. Die hele land wat jy sien, sal Ek vir jou en vir jou nageslag gee, vir altyd. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof op die aarde. As iemand die stof op die aarde kan tel, dan sal hy jou nageslag ook kan tel. Jy mag nou deur die hele land trek, want Ek gee dit vir jou.” Abram het sy tente opgeslaan en hy het gaan woon by die bome van Mamre, by die stad Hebron. Abram het daar 'n altaar vir die Here gebou.

Video vir Genesis 13:5-18