Toe staan Petrus op saam met die ander elf apostels. Hy het hard en ernstig gepraat en vir die mense gesê: “Joodse vriende, ja, almal wat in Jerusalem woon, julle moet verstaan wat hier gebeur en julle moet goed luister na wat ek vir julle sê. Julle dink hierdie mense is dronk, maar hulle is nie, want dit is nou nege-uur in die oggend. Die dinge wat hier gebeur, is die dinge waaroor die profeet Joël gepraat het:
“ God het gesê:
“Dit sal só wees in die laaste dae:
Ek sal my Gees gee
vir al die mense:
Julle seuns en julle dogters
sal God se boodskap bring.
Julle jongmanne sal dinge sien
wat die Here vir hulle wys,
en julle ou manne
sal drome droom.
Ja, in die laaste dae sal Ek
my Gees gee vir elke man
en vrou wat vir My werk,
en hulle sal God se boodskap
bring.
En Ek sal wondertekens gee
bo in die hemel
en tekens onder op die aarde:
bloed en vuur en rook.
Die son sal heeltemal
donker word,
en die maan sal word soos bloed.
Dan sal die groot en belangrike
dag van die Here kom.
En dit sal só wees:
Die Here sal almal red
wat tot Hom bid,
almal wat vra dat Hy
hulle moet red.
“Israeliete, julle moet goed luister na wat ek sê: Julle weet dat God vir Jesus van Nasaret groot dinge en wonderwerke en tekens laat doen het toe Jesus by julle was. So het God gewys dat Hy self vir Jesus gestuur het. God het lank gelede besluit en geweet dat Hy hierdie Man sal gee vir die mense wat nie die wette van God ken nie, sodat hulle met Hom kan doen wat hulle wil. Hierdie mense het vir Jesus geneem en hulle het Hom vir julle gegee, en toe het julle Hom gekruisig en vermoor. Maar God het toe vir Jesus vrygemaak van die pyne van die dood, Hy het vir Jesus weer laat lewe. Want die dood kon nie vir Jesus vashou nie. Dawid het dinge gesê oor homself, maar hy het dit ook oor Jesus gesê. Dawid het gesê:
“ Ek het die Here altyd
voor my gesien,
want Hy is hier regs langs my
sodat ek nie val nie.
Daarom was my hart bly
en was my tong baie bly.
Ja, ek hoop en ek is seker
dat my liggaam sal lewe.
Want U sal nie vir my
na die doderyk laat gaan nie.
Ek is aan U gewy,
U sal my nie laat sterf nie.
U het vir my geleer
hoe om te lewe,
ek sal altyd bly wees
wanneer U by my is.
“Vriende, julle almal weet dat ek reg is as ek vir julle sê dat ons voorvader Dawid gesterwe het en begrawe is, en dat sy graf vandag nog by ons is. Maar Dawid was 'n profeet, en hy het geweet dat God vir hom belowe het dat een van sy nageslag eendag op sy troon sal sit. Dawid het gesien wat later sal gebeur en daarom het hy gesê dat Christus weer sal lewe. Dawid het gesê:
“ God het Hom nie na die doderyk
laat gaan nie,
en sy liggaam het nie gesterf nie.
“God het vir Hóm, vir Jesus, weer laat lewe, en ons is almal getuies daarvan. God het vir Jesus opgeneem in die hemel en Hy het gesê dat Jesus op die belangrikste plek langs Hom moet sit. Toe het die Vader vir Jesus die Heilige Gees gegee, die Vader het dit belowe. En Jesus het die Heilige Gees vir ons gegee. Dit is wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie na die hemel gegaan nie. Dawid sê self:
“ Die Here het vir my Here gesê:
‘Jy moet hier langs My sit,
op die belangrikste plek,
want Ek sal jou vyande verneder,
en Ek sal hulle voor jou laat lê
sodat jy jou voete op hulle kan sit.’
“Die hele Israel moet nou weet, en dit is seker: Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het gesê dieselfde Jesus moet die Here en die Christus wees.”
Toe die mense hierdie woorde hoor, was hulle hartseer en ontsteld. Hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Vriende, wat moet ons doen?”
En Petrus het vir hulle gesê: “Julle moet verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle almal moet gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en God sal die Heilige Gees vir julle gee. Want God het dit belowe vir julle en vir julle kinders en ook vir al die mense wat nie Jode is nie. Ja, Hy belowe dit vir al die mense wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”
Petrus het nog baie ander dinge gesê, hy het die mense gewaarsku en hy het ernstig met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle moet vir God vra om julle te red, julle moenie wees soos die wêreld se mense wat sonde doen nie.”