Naäman was die hoof van die leër van die koning van Aram. Hy was 'n belangrike man en die koning het hom gerespekteer, want die Here het vir Naäman gebruik om die Arameërs te laat wen teen hulle vyande. Naäman kon goed oorlog maak, maar hy was melaats. Die Arameërs het voorheen eendag 'n paar stede in die land Israel gaan aanval. Naäman het toe 'n klein dogtertjie van Israel saamgebring om vir sy vrou te werk. Die dogtertjie het vir Naäman se vrou gesê: “As Meneer by die profeet Elisa in Samaria kan kom, dan sal die profeet hom gesond maak. Meneer sal dan nie meer melaats wees nie.” Naäman het vir die koning gaan sê wat die dogtertjie sê wat van die land Israel kom, en die koning van Aram het vir Naäman gesê: “Jy moet na Israel gaan, ek sal 'n brief saamstuur vir die koning van Israel.” Naäman het gegaan en hy het tien talente silwer, 6 000 sikkels goud en klere vir tien mense saamgeneem. Hy het die brief vir die koning van Israel gebring. Die koning van Aram het in die brief geskryf: “As hierdie brief by jou kom, dan moet jy weet dit is ék wat my offisier Naäman na jou toe stuur. Jy moet hom gesond maak, hy is melaats.” Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Dink hy ek is God wat mense kan doodmaak of hulle kan laat lewe? Hoekom stuur hierdie man sy offisier wat melaats is na my toe sodat ek hom moet gesond maak? Julle kan sien hy wil vir my probleme gee.” Elisa, die man van God, het gehoor dat die koning sy klere geskeur het, en hy het vir die koning 'n boodskap gestuur en vir hom gevra: “Hoekom skeur jy jou klere? Stuur Naäman na my toe, sodat hy kan weet daar is 'n profeet in die land Israel.” Naäman het toe met sy perde en sy oorlogkar gekom en hy het gestop voor die deur van Elisa se huis. Elisa stuur toe vir Naäman 'n boodskap en sê: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan-rivier, dan sal jou vel gesond word en jy sal weer rein wees.” Naäman het kwaad geword en hy het gery. Hy het gesê: “Ek het gedink Elisa sal uitkom en by my kom staan. Ek het gedink hy sal sy hand oor die seerplekke beweeg en my gesond maak. Die Abana-rivier en die Parpar-rivier van Damaskus is beter as al die water van Israel. As ek my in 'n rivier moet was om rein te word, dan kon ek dit daar gedoen het.” Naäman was baie kwaad en hy het weggery. Maar sy bediendes het met hom kom praat en hulle het vir hom gesê: “Meneer, as die profeet vir jou gesê het jy moet iets doen wat moeilik is, dan sou jy dit gedoen het. Maar nou het hy vir jou gesê: ‘Gaan was jou, dan sal jy weer rein wees.’ ” Toe gaan Naäman af na die Jordaan-rivier en hy duik sewe maal in die water soos die man van God gesê het. Daarna was sy vel so gesond soos 'n klein seuntjie se vel, en hy was weer rein. Hy het teruggegaan na die man van God toe en hy en al sy mense het voor Elisa kom staan. Naäman het gesê: “Luister asseblief, ek weet nou daar is op die hele aarde nie 'n ander God nie, daar is net die God van Israel. En nou wil ek graag vir jou 'n present gee.”
Lees 2 Konings 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Konings 5:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's