1 Petrus 3:3-15

1 Petrus 3:3-15 ABA

Julle moet mooi wees, maar julle moenie mooi wees net omdat julle julle hare so mooi vleg dat almal altyd daarna wil kyk nie, of omdat julle goue juwele dra of omdat julle baie duur klere aantrek nie. Julle harte moet altyd mooi wees, julle moet nederig en rustig wees. Dit is baie belangrik vir God. Dit was voorheen dieselfde met die vroue wat in God geglo het en wat seker was dat Hy sal doen wat Hy gesê het. Hulle was gehoorsaam aan hulle eie mans, dit is hoekom hulle mooi was. So was Sara gehoorsaam aan Abraham. Sy het vir hom gesê: “Meneer.” Julle is nou Sara se kinders. Daarom moet julle goeie dinge doen en julle moenie bang wees vir enige iets wat vir julle wil bangmaak nie. Mans, julle moet onthou dat vroue swakker is as mans, en julle moet só met hulle saam lewe. Julle moet hulle respekteer omdat hulle saam met julle die ware lewe sal kry wat God vir julle sal gee. Julle moet dit doen sodat niks julle kan keer om reg te bid nie. Hierdie is die laaste dinge wat ek hieroor wil sê. Julle moenie met mekaar twis nie, julle moet dieselfde dink oor dinge. Julle moet bly wees saam met ander mense en julle moet hartseer wees saam met hulle. Julle moet lief wees vir mekaar soos broers en susters lief is vir mekaar. Julle moet jammer wees vir ander mense en julle moenie hoogmoedig wees nie. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle nie ook slegte dinge doen aan hulle nie. Wanneer mense slegte dinge sê van julle, dan moet julle nie ook slegte dinge sê van hulle nie. Nee, julle moet hulle seën, want die Here het julle gekies om ander mense te seën. As julle dit doen, dan sal Hy julle seën. Iemand wat lief is vir die lewe en wat graag goeie dinge wil hê, moenie sleg praat van mense nie en hy moenie lieg nie. Hy moenie verkeerde dinge doen nie, hy moet goeie dinge doen, hy moet altyd probeer om vrede te maak. Want die Here kyk na die mense wat reg lewe en Hy sorg vir hulle. Hy luister wanneer hulle roep en vra dat Hy hulle moet help. Maar die Here hou nie van mense wat verkeerde dinge doen nie. Dit is seker: Niemand sal slegte dinge doen aan julle as julle baie graag goeie dinge wil doen nie. Nee, julle is gelukkige mense as julle swaarkry omdat julle doen wat die Here wil hê. Maar julle moenie bang wees vir die mense wat julle laat swaarkry nie, en julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet onthou dat Christus heilig is en dat Hy die Here is. Julle weet van die dinge wat sal gebeur, julle is seker daarvan. Wanneer mense vir julle vra om te vertel van daardie dinge, dan moet julle altyd gereed wees om vir elkeen te vertel van die dinge.