RUT 2:8-13

RUT 2:8-13 NLV

Toe loop Boas na haar toe en sê vir Rut: “Luister, my dogter: Bly net hier by ons en tel hier are op. Moenie na ander landerye toe gaan nie. Bly gerus by die vroue wat vir my werk. Kyk op watter deel van die landerye hulle oes en gaan saam met hulle. Ek het die werksmense opdrag gegee om jou nie lastig te val nie. As jy dors word, gaan drink gerus van die water in die houers wat my werkers vir hulle uit die put geskep het.” Rut het diep voor hom gebuig en hom gevra: “Hoekom is u so goed vir my dat u my uitsonder terwyl ek ’n buitelander is?” Boas antwoord haar: “Ek het gehoor van al die liefde en goedheid wat jy ná die dood van jou man aan jou skoonma betoon het. Ek het gehoor dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het om hier tussen vreemde mense te kom woon. Mag die HERE, die God van Israel, onder wie se vlerke jy kom skuiling soek het, jou ten volle beloon.” “U laat my goed voel, Meneer,” antwoord sy. “U het my bemoedig deur so vriendelik met my te praat al is ek nie eers een van u slavinne nie.”