Luister hierna, al julle volke! Gee ag, al julle bewoners van die wêreld: eenvoudiges en mense van aansien, dié wat ryk is en dié wat arm is! My mond sal wyse woorde praat, my gedagtes sal getuig van insig. Ek sal luister na spreuke en raaisels oplos by die speel van die lier. Waarom sal ek bang wees in tye van nood, wanneer bose bedrieërs my omsingel, hulle wat vertrou op hulle welvaart, wat spog met hulle rykdom? Geen mens kan enigsins ’n ander loskoop deur ’n losprys aan God te gee nie. Die redding van ’n mens is te duur. Niemand kan ooit genoeg betaal sodat hy vir altyd sal lewe en die dood nie sal sien nie. Almal kan sien: Wyse mense sterf, ook die dwaas en die stommerik, en laat hulle rykdom agter vir ander. Hulle graf is hulle tuiste vir altyd. Daar sal hulle bly van geslag tot geslag, selfs al het hulle die grond na hulleself vernoem. Die mens in weelde leef nie vir altyd nie, maar sterf self net soos die diere. Dit is die lot van dwase mense, en dié wat hulle woorde beaam. Sela Soos skape is hulle vir die doderyk bestem, daar waar die dood hulle herder sal wees. Die opregtes sal oor hulle seëvier wanneer die dag aanbreek; hulle sal verrot in die graf wat vir hulle ’n tuiste sal wees. Maar God sal my verseker loskoop uit die mag van die doderyk en my saam met Hom neem. Sela Moenie ontsteld word as die goddelose ryk word en sy woning nog mooier maak nie. Hy kan niks met hom saamneem wanneer hy sterf nie; sy besittings sal hom nie volg nie. Hoewel hy voorspoedig kan wees, en hulle hom toejuig oor sy sukses, sal hy sterf soos sy voorouers voor hom wat nie weer die daglig sal sien nie.
Lees PSALMS 49
Luister na PSALMS 49
Deel
Vergelyk alle weergawes: PSALMS 49:1-20
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's