Iemand wat bereid is om reggehelp te word, leer graag. Dit is dom as iemand hom nie wil laat teregwys nie. Die HERE hou van ’n mens wat goeddoen. Hy het nie tyd vir ’n slinkse mens nie. Iemand wat verkeerd lewe, het nie vastigheid nie. Iemand wat regverdig lewe, is stewig geanker. ’n Goeie vrou is haar man se trots. Een wat skande maak, is soos kanker in sy bene. Die planne van die regverdiges is reg. Die raad van goddeloses is vol bedrog. Wat goddelose mense sê, is ’n lokval vir ander. Opregte mense se woorde red hulleself. Goddeloses kom tot ’n val en dit is verby met hulle. Die nageslag van regverdiges bly voortbestaan. Mense bewonder iemand wat verstandige dinge sê. Hulle verag iemand wat verdraaide idees het. Dit is beter om onbelangrik te wees en ’n slaaf te hê, as om vol van jouself te wees en nie eers kos te hê om te eet nie. Die regverdige gee om vir sy diere, maar ’n goddelose mens is altyd baie wreed met hulle. Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie. Die goddelose soek veiligheid in verkeerde dade. Die regverdiges is goed gevestig. ’n Slegte mens se woorde is ’n strik vir homself. Iemand wat reg lewe, ontduik moeilikheid. Met jou woorde kan jy baie goeie dinge kry. Die werk van jou hande gee jou ook baie voorregte. Vir ’n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad. ’n Dwaas is opvlieënd; ’n verstandige persoon bly kalm wanneer hy beledig word. Die regverdige mens getuig die waarheid; ’n getuie wat lieg, pleeg bedrog. Daar is mense wat dinge sal sê wat seermaak. ’n Wyse mens se woorde bring eerder genesing. Die waarheid hou vir altyd; die leuen kom gou aan die lig. Daar is bedrog in die harte van hulle wat kwaad bedink. Daar is vreugde in die harte van hulle wat vrede beplan. Die regverdige spring probleme vry. Die goddeloses se lewe is vol rampe. Die HERE verafsku mense wat hulle woord breek. Hy hou van mense wat by hulle woord staan. ’n Verstandige mens bly stil oor sy kennis. Dwase basuin hulle onkunde uit. Dié wat pligsgetrou werk, word leiers; lui mense word slawe. Bekommernis rem ’n mens af; bemoedigende woorde maak hom bly. Die regverdige kyk mooi waar hy loop; maar die pad van goddeloses is ’n dwaalweg. Die luiaard verroer nie ’n vinger om self kos te maak nie. ’n Hardwerkende mens gaan uit sy pad om kosbare besittings te versamel. Die pad van die regverdige loop na die lewe; dit is nie ’n pad wat na die dood toe lei nie.
Lees SPREUKE 12
Luister na SPREUKE 12
Deel
Vergelyk alle weergawes: SPREUKE 12:1-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's