FILEMON 1:1-25

FILEMON 1:1-25 NLV

Hierdie brief kom van Paulus. Ek is ’n gevangene ter wille van Christus Jesus. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my. Ons skryf aan Filemon, ons geliefde vriend en medewerker, asook aan ons suster Affia, aan Argippus, ons medesoldaat, en aan die gemeente wat in jou huis bymekaarkom. Mag die genade en die vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees. Filemon, ek dank my God altyd wanneer ek in gebed aan jou dink, want ek hoor van jou liefde vir al God se mense en van jou getrouheid aan die Here Jesus Christus. Ek bid dat die geloof wat ons met mekaar deel, jou ’n diep insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. Broer, jou liefde het my bly gemaak en my bemoedig, omdat jy die harte van God se mense so dikwels verkwik het. In my verbondenheid aan Christus het ek volle vrymoedigheid om vir jou te sê wat jy moet doen. Tog wil ek, Paulus, ’n ou man, en nou ook nog ’n gevangene ter wille van Christus Jesus, eerder ’n beroep op jou liefde doen. Ek pleit by jou vir my kind Onesimus. Ek het hom hier in die tronk tot bekering gelei. Hy was voorheen vir jou niks werd nie, maar nou is hy vir jou en ook vir my baie bruikbaar. Ek stuur hom na jou toe terug. Hy is my hart se punt. Eintlik sou ek, terwyl ek in boeie is omdat ek die Goeie Nuus verkondig, hom graag hier by my wou hou sodat hy my namens jou kan help. Ek wou egter eers met jou daaroor praat sodat die goeie dinge wat jy doen, nie afgedwing word nie, maar vrywillig kan wees. Dalk móés Onesimus ’n rukkie van jou af weg wees sodat jy hom vir ewig kan terugkry, nie langer as ’n slaaf nie, nee, méér as ’n slaaf, as ’n geliefde broer! Dis wat hy veral vir my beteken; hoeveel te meer sal hy as mens én as Christen, dit nie vir jou beteken nie! Aangesien jy my dan as vennoot beskou, verwelkom hom soos jy my sou verwelkom. As hy jou enige skade aangedoen het, of jou iets skuld, sit dit op my rekening. EK, PAULUS, SKRYF HIER MET MY EIE HAND: “EK SAL BETAAL.” Ek hoef nie te noem dat jy my eintlik jou lewe skuld nie! Asseblief, broer, bewys aan my hierdie guns omdat ons aan die Here verbonde is. Verkwik my hart omdat jy ’n Christen is. Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet dat jy selfs méér as dit sal doen. Terwyl ek nou vra, reël asseblief vir my verblyf, want ek hoop om danksy julle gebede vrygelaat te word. Epafras, wat saam met my ’n gevangene ter wille van Christus Jesus is, stuur vir julle groete. Ook Markus, Aristargus, Demas en Lukas, my medewerkers, stuur groete. Mag die Here Jesus Christus se genade julle geestelik versterk!