MARKUS 5:21-43

MARKUS 5:21-43 NLV

Daarna het Jesus weer per skuit die see oorgesteek. Daar het ’n groot skare op die strand om Hom saamgedrom. ’n Leier van die plaaslike sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe na Hom toe. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer en pleit ernstig by Hom: “My dogtertjie is op haar laaste. Kom sit tog u hande op haar sodat sy gesond kan word en bly lewe.” Jesus het toe saam met hom gegaan. ’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom en teen Hom saamgedrom. Daar was ’n vrou onder hulle wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie swaargekry onder die baie dokters wat haar behandel het, en om haar dokterskostes te dek het sy alles bestee wat sy gehad het. Tog het sy niks beter geword nie, maar eerder agteruitgegaan. Toe sy van Jesus hoor, het sy deur die skare gebeur en van agter aan sy klere geraak. Sy het gedink: “As ek net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Die bloeding het dadelik gestop en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy gesond is. Jesus het dadelik agtergekom dat daar genesingskrag van Hom uitgegaan het. Daarom het Hy so tussen die baie mense omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels protesteer toe: “U sien tog hoe die massa U verdring. Hoe kan U vra: ‘Wie het aan my klere geraak?’” Maar Jesus het bly rondkyk om te sien wie dit gedoen het. Onder die besef van wat met haar gebeur het, het die vrou, bewend van angs, voor Hom kom neerval en vir Hom alles openhartig vertel. Hy het vir haar gesê: “My dogter, omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword. Gaan in vrede en wees vir altyd genees van jou kwaal.” Terwyl Hy nog besig was om met haar te praat, kom daar boodskappers van Jaïrus se huis af met die boodskap: “Jou dogter is dood. Dit sal nie help om die leermeester langer lastig te val nie.” Jesus het die boodskap egter gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moet jou nie ontstel nie; vertrou net.” Jesus het die menigte gestop en niemand toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en sy broer Johannes. Toe hulle by die huis van die leier van die sinagoge aankom, sien Jesus die hele gedoente van mense wat huil en klaagkrete laat hoor. Hy gaan toe in die huis in en sê vir die mense: “Waarom lawaai en huil julle so? Die kind is nie dood nie; sy slaap net.” Die klomp het Hom uitgelag. Maar Hy het almal buitentoe gestuur. Toe vat Hy die kindjie se pa en ma en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê. Terwyl Hy haar hand vat, sê Hy vir die kind: “Dogtertjie, staan op!” Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap – sy was immers al twaalf jaar oud. Haar ouers was absoluut in ekstase. Maar Jesus het hulle opdrag gegee om dit heeltemal stil te hou en vir haar iets te ete te gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid