MARKUS 4:1-25

MARKUS 4:1-25 NLV

Jesus het toe weer die mense op die strand begin onderrig. Daar drom toe so ’n reuse skare om Hom saam dat Hy in ’n skuit wat op die water vasgemeer was, gaan sit het terwyl die hele menigte op die strand was. Hy het hulle toe breedvoerig deur middel van gelykenisse onderrig. Hier volg ’n tipiese gelykenis: “Luister nou goed,” het Jesus gesê. “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik en dit het geen oes voortgebring nie. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het opgekom, gegroei en ’n oes voortgebring – tot 30 en 60 en 100 maal wat oorspronklik gesaai is. Elkeen wat kan hoor,” het Jesus gesê, “moet goed luister na wat Ek sê.” Later, toe Jesus alleen was saam met die twaalf dissipels en sy ander mense, het hulle Hom uitgevra: “Wat beteken hierdie gelykenisse?” Jesus het hulle geantwoord: “Julle word bevoorreg om die geheim van God se koningsheerskappy te verstaan. Maar vir die buitestanders bly hierdie dinge blote gelykenisse sodat die Skrifwoord vervul kan word: ‘Sodat hulle sien wat Ek doen, maar nie die bedoeling daarvan verstaan nie; sodat hulle my woorde hoor, en dit tog nie begryp nie; sodat hulle nie van hulle sondes wegdraai en vergewe word nie.’” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel? Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi. Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.” Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei. “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang. Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.”