Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie prins van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.” Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra. “’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie! En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie! Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom. Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof. “Ek verseker julle, elke sonde, ja, selfs elke lastering wat mense uitspreek, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid nie vergifnis kry nie. So iemand sal vir altyd skuldig bly.” Dit het Jesus gesê omdat hulle beweer het dat daar ’n onrein gees in Hom was. Jesus se ma en broers het juis toe daar aangekom. Hulle het buite bly staan en vir Hom laat weet dat Hy na hulle toe moes kom. Daar het ’n skare rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u ma en u broers en u susters staan buite en vra na U!” Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?” Daarop kyk Hy na dié wat so rondom Hom sit, en Hy sê: “Julle is my ma en my broers. Elkeen wat aan God gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”
Lees MARKUS 3
Luister na MARKUS 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 3:22-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's