MARKUS 2:1-12

MARKUS 2:1-12 NLV

Toe Jesus ná ’n hele aantal dae na Kapernaum terugkeer, het dit rugbaar geword dat Hy weer by die huis is. Gou-gou was die huis so vol mense dat daar vir niemand meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel. Daar daag toe vier mans by Hom op wat ’n verlamde persoon op ’n mat dra. As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ’n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “My seun, jou sondes word vergewe.” Maar party van die skrifkenners wat daar gesit het, het by hulleself gedink: “Wat? Dis tog laster! Net God kan sondes vergewe!” Jesus het sonder meer geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom dink julle dit is laster? Wat is makliker – om vir die verlamde te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’? Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om sondes op aarde te vergewe.” Daarop sê Jesus vir die verlamde man: “Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan na jou huis toe!” Net daar het die man opgespring, sy mat geneem en voor almal se oë buitentoe gegaan. Hulle was almal verstom en het God geprys en uitgeroep: “So iets het ons nog nooit tevore gesien nie!”