“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg. En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.”
“Daar is gesê: ‘Al wat ’n man nodig het om van sy vrou te skei is om aan haar ’n skeisertifikaat te oorhandig.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor huweliksontrou, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg. En elkeen wat met so ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”
“Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie.
“As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is. Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie.
“Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.”
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ’n slegte mens verset nie. As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang. En gee vir hulle wat jou hof toe wil vat omdat hulle jou onderkleed wil hê, ook jou bo-kleed. As ’n soldaat jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer ver.
“Géé vir die een wat iets van jou vra, en moenie jou rug draai op iemand wat by jou wil leen nie.”
“Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg. Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader. Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies. En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen.
“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle? Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde. En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan? Doen die ongelowiges nie ook maar dieselfde nie?
“Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in sý liefde is. Hy het mos álle mense lief.”