MATTEUS 2:1-9

MATTEUS 2:1-9 NLV

Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore tydens die regeringstyd van koning Herodes die Grote. Omstreeks daardie tyd het daar sterrekundiges uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag: “Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid.” Toe koning Herodes hiervan hoor, het dit hom hewig ontstel; so ook die hele Jerusalem. Hy roep toe al die priesterhoofde en skrifkenners bymekaar en hoor by hulle waar die Messias gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want die profeet het soos volg geskryf: ‘En jy, Betlehem, in die landstreek van Juda, jy is beslis nie die onbeduidendste dorpie in Juda nie; want uit jou sal daar ’n leier voortkom wat my volk Israel sal versorg soos ’n skaapwagter sy skape.’” Daarop het Herodes ’n geheime boodskap na die sterrekundiges gestuur om hulle na hom te ontbied. Hy het toe noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster oorspronklik verskyn het. Daarna laat hy hulle na Betlehem gaan met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid.” Nadat hulle die koning aangehoor het, het die sterrekundiges vertrek. En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was.