MATTEUS 13:19-23

MATTEUS 13:19-23 NLV

Hulle by wie die saad op die voetpad gesaai is, is elkeen wat die boodskap van God se koningsheerskappy hoor, maar dit nie begryp nie. Die Bose kom en roof wat in hulle harte gesaai is. Hulle by wie op klipperige grond gesaai is, is die mense wat die boodskap hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Maar hulle wortels gaan nie diep nie en hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar swaarkry of vervolging ter wille van die boodskap kom, struikel hulle in hulle geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug. Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan. Hulle dra vrug en bring ’n oorvloedige oes voort: 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.”