Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit en die apostels saam met Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.” Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy: “Neem dit en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.” Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê: “Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.” Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word. “Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel. Met die Seun van die Mens sal dit inderdaad gaan volgens die beskikking van God, maar groot ellende wag op hom deur wie Hy uitgelewer word!” Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen. Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Jesus het egter gereageer: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners. “By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien. Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het. “Net soos my Vader ’n koninkryk aan My toegewys het, só bemaak Ek dit ook aan julle sodat julle in my koninkryk kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone om oor die twaalf stamme van Israel reg te spreek.” “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.” Petrus sê vir Jesus: “Here, ek is gereed om saam met U die pad te loop tot in die gevangenis en die dood.” Jesus het egter gereageer: “Petrus, Ek sê dit nou vir jou: ’n Haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.”
Lees LUKAS 22
Luister na LUKAS 22
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: LUKAS 22:14-34
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's