LUKAS 11:37-44

LUKAS 11:37-44 NLV

Toe Jesus klaar gepraat het, het een van die Fariseërs Hom na sy huis genooi vir ’n ete. Hy het dus ingegaan en sy plek aan tafel ingeneem. Sy gasheer was verbaas om te sien dat Hy plaasneem sonder om eers die seremoniële reiniging volgens Joodse gebruik na te kom. Toe het die Here vir hom gesê: “Julle, Fariseërs, is so versigtig om die buitekant van die koppie en bord skoon te maak, maar binne-in is julle nog smerig – vol inhaligheid en gemeenheid! Dwase! Het God nie die binne- sowel as die buitekant gemaak nie? Gee dus vir die behoeftiges wat binne die koppie en die bord is, en julle sal oral skoon wees. “Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ’n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee, maar julle vergeet heeltemal van regverdigheid en die liefde vir God. Julle moet regverdigheid en liefde beoefen, maar sonder om die tiendes na te laat. “Ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle hou van die ereplekke in die sinagoges en om eerbiedig gegroet te word wanneer julle deur die markpleine loop! Ja, ellende wag vir julle! Want julle is soos versteekte grafte in die veld. Mense loop daaroor sonder om te weet van die korrupsie waaroor hulle loop.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 11:37-44