Eendag het Jesus ’n bose gees uit ’n man uitgedryf wat nie kon praat nie, en die man se stem het teruggekeer. Die skare was verstom, maar sommige het gesê: “Geen wonder Hy kan bose geeste uitdryf nie. Hy kry sy krag van Satan, die prins van bose geeste!” Om Jesus te toets het ander vir ’n wonderteken uit die hemel gevra om te sien of Hy van God kom.
Hy het hulle gedagtes geken; daarom het Hy gesê: “Enige koninkryk wat teen homself stryd voer, is gedoem. En ’n verdeelde huis is ook gedoem. Julle sê mos Ek kry my mag deur die prins van bose geeste. Maar as Satan teen homself veg deur My mag te gee om bose geeste uit te dryf, hoe kan sy koninkryk voortbestaan? En as Ek deur die prins van bose geeste mag kry, wat van julle eie volgelinge? Hulle dryf ook bose geeste uit; dus sal hulle julle veroordeel vir wat julle gesê het. Maar as Ek bose geeste uitdryf deur die krag van God, dan het die koningsheerskappy van God tot by julle gekom. Want wanneer Satan, wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig – totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig en sy wapens afneem en wat hy van ander gesteel het, uitdeel.
“Enigiemand wat My nie help nie, weerstaan My; en enigiemand wat nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, is besig om hulle uitmekaar te jaag.”
“Wanneer ’n onrein gees iemand verlaat, gaan hy die woestyn in op soek na rus. Maar as hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na die persoon toe waar ek vandaan kom.’ Hy gaan dus terug en kry sy vorige tuiste uitgevee en skoon. Dan gaan haal hy sewe ander geeste erger as hyself, en trek in die persoon in en bly in hom. En so is daardie persoon slegter daaraan toe as voorheen.”
Terwyl Hy praat, het ’n vrou in die skare uitgeroep: “God seën u moeder – die skoot waaruit U gekom het, en die borste wat U gevoed het!”
Hy het geantwoord: “Maar nog meer geseënd is almal wat die woord van God hoor en dit uitleef.”
Terwyl die skare om Jesus saamdrom, het Hy gesê: “Dit is bose tye hierdie, en hierdie bose geslag hou aan om van My ’n wonderteken te vra. Maar die enigste teken wat Ek hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona. Wat met hom gebeur het, was ’n teken vir die mense van Nineve dat God hom gestuur het. Wat met My gebeur, sal ’n teken wees dat God My, die Seun van die Mens, na hierdie mense gestuur het.
“Die koningin van Skeba sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ’n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en hierdie geslag weier om na Hom te luister. Die mense van Nineve sal ook in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want hulle het tot inkeer gekom deur die prediking van Jona. En nou is Iemand groter as Jona hier – en hierdie geslag weier om tot inkeer te kom.”
“Niemand steek ’n lamp op en steek dit dan weg of sit dit onder ’n emmer nie. Inteendeel, dit word op ’n staander geplaas om lig te laat skyn vir almal wat die kamer binnekom. Jou oog is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog laat lig in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog sluit die lig uit en dompel jou in duisternis. Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie. As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn.”
Toe Jesus klaar gepraat het, het een van die Fariseërs Hom na sy huis genooi vir ’n ete. Hy het dus ingegaan en sy plek aan tafel ingeneem.
Sy gasheer was verbaas om te sien dat Hy plaasneem sonder om eers die seremoniële reiniging volgens Joodse gebruik na te kom.
Toe het die Here vir hom gesê: “Julle, Fariseërs, is so versigtig om die buitekant van die koppie en bord skoon te maak, maar binne-in is julle nog smerig – vol inhaligheid en gemeenheid! Dwase! Het God nie die binne- sowel as die buitekant gemaak nie? Gee dus vir die behoeftiges wat binne die koppie en die bord is, en julle sal oral skoon wees.
“Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ’n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee, maar julle vergeet heeltemal van regverdigheid en die liefde vir God. Julle moet regverdigheid en liefde beoefen, maar sonder om die tiendes na te laat.
“Ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle hou van die ereplekke in die sinagoges en om eerbiedig gegroet te word wanneer julle deur die markpleine loop! Ja, ellende wag vir julle! Want julle is soos versteekte grafte in die veld. Mense loop daaroor sonder om te weet van die korrupsie waaroor hulle loop.”
“Leermeester,” sê ’n wetskenner, “U beledig óns ook met wat U nou gesê het.”
“Ja,” het Jesus geantwoord, “ellende wag ook vir julle, wetskenners! Want julle belas mense met onmoontlike godsdienstige eise, en julle lig nooit ’n vinger om die las te verlig nie.
“Ellende wag vir julle! Want julle bou grafte vir die profete wat julle voorouers lank gelede vermoor het. So bevestig julle dat julle die dade van julle voorouers goedkeur. Húlle het immers die profete doodgemaak, maar júlle bou hulle grafte op.
“Dít is wat God in sy wysheid oor julle gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, en hulle sal sommige doodmaak en ander vervolg.’
“En julle van hierdie geslag sal verantwoordelik gehou word vir al God se profete van die skepping van die wêreld af – van die moord van Abel af tot die moord van Sagaria wat tussen die altaar en die heiligdom vermoor is. Ja, dit sal sekerlik teen julle gehou word.
“Ellende wag vir julle, wetskenners! Want julle verberg die sleutel tot kennis vir die mense. Julle gaan self nie die koninkryk binne nie, en julle verhinder ander om in te gaan.”
Toe Jesus uit die huis uitgaan, het die wetskenners en Fariseërs baie vyandig begin raak en Hom met vrae bestook oor ’n klomp goed in ’n poging om Hom te betrap op iets wat Hy verkeerd sê.