Die Israeliete het kwaad gedoen. Hulle het nie met die ban gemaak soos die Here vir hulle gesê het nie. Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die stam Juda, het van die goed gevat wat deur die ban aan die HERE gewy moes wees. Die HERE het toe kwaad geword vir die Israeliete. Josua het manskappe van Jerigo af na Ai toe uitgestuur. Ai was naby Bet-Awen en oos van Bet-El. Hy het vir hulle gesê: “Gaan en verken die land.” Die mans het toe Ai gaan verken. Hulle het teruggekom en aan Josua rapporteer: “Die hele volk hoef nie daarteen op te trek nie. Daar hoef net so 2 000 of 3 000 man soontoe te gaan. Hulle sal Ai kan inneem. Dit is maar ’n klein plekkie.” Ongeveer 3 000 mans het toe daarheen opgetrek. Hulle moes egter vlug voor die mense van Ai. Die mense van Ai het die Israeliete van die poort van die stad af agternagesit en hulle gejaag tot by die klipskeure waar hulle omtrent 36 van hulle teen die skuinste doodgemaak het. Die volk se moed het in hulle skoene gesak. Josua het sy klere geskeur. Hy het voor die ark van die HERE op die grond neergeval en daar bly lê tot die aand toe. Hy en die leiers van Israel het stof oor hulle koppe gestrooi. Josua het toe gehuil: “Ag, oppermagtige HERE, waarom het U hierdie volk oor die Jordaan laat kom om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan vernietig? As ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly het! HERE, wat kan ek nou sê nadat Israel vir sy vyande moes vlug? Wanneer die Kanaäniete en almal wat in die land woon daarvan hoor, gaan hulle ons omsingel en ons van die aarde af verdelg. Wat sal dan van u eervolle Naam word?” Die HERE sê toe vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy daar op die grond? Israel het oortree. Hulle het my ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed van die ban gevat. Hulle het daarvan gesteel. Hulle het daaroor gelieg en dit by hulle goed gaan wegsteek. Die Israeliete sal nie weerstand kan bied teen hulle vyande nie. Hulle sal moet vlug vir hulle vyande, want hulle het nou self ’n banvloek geword wat vernietig moet word. “Ek sal nie langer by julle bly as julle nie alles tussen julle vernietig wat onder die ban staan nie. Staan op! Laat die volk hulle reinig en toewy aan God. Sê vir hulle: ‘Kry julle reg vir môre. Die HERE die God van Israel sê: Daar is nog van die goed van die ban onder julle, Israel. Julle sal nie teen julle vyande opgewasse wees solank julle dit nie onder julle verwyder het nie. “‘Julle moet môre-oggend volgens julle stamme kom aanmeld. Die HERE sal die skuldige stam uitwys. Daardie stam wat deur die HERE aangewys word, moet met sy families naderkom sodat die HERE die skuldige familie onder hulle kan uitwys. Hulle moet weer volgens hulle gesinne een vir een naderkom dat die HERE die gesin kan aanwys. Die man wat met die bangoed in sy besit gevang word, moet met vuur verbrand word, saam met al sy mense. Hy het die ooreenkoms met die HERE verbreek. Hy het iets skandeliks in Israel aangevang.’”
Lees JOSUA 7
Luister na JOSUA 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: JOSUA 7:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's