JOHANNES 6:1-14

JOHANNES 6:1-14 NLV

Hierna het Jesus na die oorkant van die Meer van Galilea vertrek, wat ook die Meer van Tiberias genoem word. ’n Baie groot skare mense het Hom bly volg omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy gedoen het toe Hy die siekes genees het. Jesus het toe die berg uitgeklim en met sy dissipels op ’n plek daar gaan sit. Die Pasga was naby, dit is ’n fees van die Jode. Toe Jesus opkyk, sien Hy dat ’n baie groot skare mense na Hom toe aangestap kom. Hy sê daarop vir Filippus: “Waar moet ons brood gaan koop sodat die mense iets te ete kry?” Jesus het dit net gesê om hom te toets, want Hy het self geweet wat Hy sou doen. Filippus het Hom geantwoord: “Dit sal ’n klein fortuin kos om aan elkeen van hulle net ’n stukkie kos te gee.” Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Jesus: “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir só baie mense?” Jesus het daarop reageer: “Reël dat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op die plek en die mense het gaan sit. Die mans was ongeveer 5 000. Jesus het toe die brode geneem, ’n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê. Nadat die skare mense versadig was, sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die oorskietstukke bymekaar sodat daar niks vermors word nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak en twaalf mandjies vol gemaak met oorskietstukke van die vyf garsbrode wat oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hierdie man is regtig die profeet, die Een wat na die wêreld toe sou kom.”