JOHANNES 11:1-42

JOHANNES 11:1-42 NLV

’n Sekere man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die tuisdorpie van Maria en haar suster, Marta. Dit was Maria wat die Here met aromatiese olie gesalf het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Dit is haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het toe iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” Jesus het die boodskap gehoor en gesê: “Hierdie siekte gaan nie op die dood uitloop nie, maar vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak sodat die Seun van God daardeur verheerlik word.” Jesus was lief vir Marta, haar suster en vir Lasarus. Toe Jesus gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy nog twee dae oorgebly op die plek waar Hy was. Eers hierna het Hy vir sy dissipels gesê: “Laat ons weer ’n keer Judea toe gaan.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Rabbi, laas wou die Jode daar U nog stenig, en U gaan wéér soontoe?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf werksure gedurende ’n dag nie? As iemand in die daglig rondloop, struikel hy nie omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. As iemand egter in die nag rondloop, struikel hy maklik omdat hy nie lig het nie.” Hierdie dinge het Jesus gesê, en daarna bygevoeg: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels het vir Jesus gesê: “Meneer, as hy slaap, sal hy mos gesond word.” Jesus het Lasarus se dood bedoel, maar hulle het gedink Hy praat van die natuurlike slaap. Toe sê Jesus reguit vir hulle: “Lasarus is dood, maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo. Laat ons dan na hom toe gaan.” Tomas, wat ook Didimus genoem is, het vir die ander dissipels gesê: “Laat ons ook gaan sodat ons saam met Jesus kan sterf.” Toe Jesus daar aankom, het Hy uitgevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer drie kilometer daarvandaan. Baie van die Jode het by Marta en Maria opgedaag om hulle meegevoel oor hulle broer te betuig. Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom gaan ontmoet. Maria het egter in die huis bly sit. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U maar net hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou nog weet ek dat God aan U sal gee wat U Hom ook al vra.” Jesus sê vir haar: “Jou broer sal weer opstaan.” Marta het dadelik reageer: “Ek weet dat hy weer sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.” Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook. Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?” Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek is vas oortuig dat U die Messias is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld toe sou kom.” Nadat sy dit gesê het, het sy teruggegaan en haar suster, Maria, gaan roep en stilletjies vir Maria gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” Toe sy dit hoor, het Maria gou-gou opgestaan en na Jesus toe gegaan. Jesus het toe nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Marta Hom ontmoet het. Die Jode wat saam met Maria in die huis was om met haar te simpatiseer, het gesien dat sy so vinnig opstaan en uitgaan. Hulle het haar gevolg omdat hulle gedink het sy is op pad graf toe om daar te gaan treur. Toe Maria aankom waar Jesus nog was, en sy Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie!” Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle antwoord: “Here, kom kyk.” Jesus begin toe huil. Die Jode sê toe: “Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!” Sommige van die omstanders het gesê: “Was hierdie man wat die oë van die blinde oopgemaak het, dan nie ook in staat om te keer dat Lasarus sterf nie?” Jesus het weer bewoë geword toe Hy by die graf kom. Die graf was ’n grot en ’n klip was voor die opening gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, Lasarus se suster, sê vir Jesus: “Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Daarop het hulle die klip weggerol. Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het. Ek weet dat U altyd na My luister; tog het Ek dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom ons staan, dat hulle kan glo dat U My gestuur het.”