JESAJA 50:1-11

JESAJA 50:1-11 NLV

Die HERE vra: “Waar is die skeibrief waarmee Ek jou moeder weggestuur het? Of aan wie van my skuldeisers het Ek jou verkoop? Nee, julle het julleself verkoop met julle oortredings en dis oor julle sondes dat Ek julle moeder weggestuur het. Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie? Hoekom was daar nie antwoord toe Ek geroep het nie? Is my arm te kort om te red? Is Ek te swak om jou te red? Ek dreig die see, en dit droog op. Ek verander riviere in woestyne sodat al die visse vrek omdat die water opgedroog het. Ek laat die lug donker word, want die aarde rou.” HERE Die oppermagtige HERE het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat. Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ’n leerling betaam. Die oppermagtige HERE het my ore oopgemaak. Ek was nie teen Hom opstandig nie. Ek was nie ontrou aan Hom nie. Ek het my rug gehou sodat hulle my kon slaan, my wang sodat hulle my baard kon uittrek. Ek het nie my gesig weggedraai toe hulle my gespot en in die gesig gespoeg het nie. Omdat die oppermagtige HERE my help, sal ek nie in die skande kom nie. Ek het my gesig hard soos vuurklip gemaak. Ek weet ek sal nie in die verleentheid kom nie. Hy wat my sal verdedig, is naby. Wie sal dit waag om ’n aanklag teen my te lê? Laat ons elkeen sy saak stel! Wie is my aanklaer? Laat hom vorentoe kom. Die oppermagtige HERE is aan my kant! Wie kan my skuldig verklaar? Almal wat my beskuldig, sal vergaan soos ’n kledingstuk wat deur motte gevreet is! Wie van julle dien die HERE en doen wat sy dienaar sê? Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die HERE, en staatmaak op sy God! Maar julle wat vure aansteek, wat brandende fakkels gereed kry, in julle eie vuur sal julle brand. Julle eie fakkels sal julle doodbrand. Dit is wat julle uit my hand sal ontvang. In smart sal julle gaan lê.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid