JESAJA 40:18-31

JESAJA 40:18-31 NLV

Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld sal julle Hom kan vergelyk? Kan jy Hom vergelyk met die afgodsbeeld? Dis deur ’n vakman gemaak, ’n goudsmid het dit met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so ’n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ’n bedrewe ambagsman om vir hom ’n beeld te maak wat nie omval nie. Weet julle dan nie? Verstaan julle nie? Is dit dan nie in die begin aan julle vertel nie? Weet julle nie Wie die aarde gegrondves het nie? God sit op sy troon bokant die hemelkoepel. Die mense op aarde lyk vir Hom soos sprinkane. Hy sprei die hemel uit soos ’n gordyn, Hy sprei dit oop soos ’n tent om in te woon. Hy oordeel oor vername mense en verlaag regeerders van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Hulle is skaars geplant, skaars gesaai, het skaars wortelgeskiet, of Hy blaas oor hulle en hulle verwelk en ’n stormwind waai hulle weg net soos kaf. “Met wie sal julle My vergelyk? Wie is my gelyke?” vra die Heilige Een. Kyk op na die hemel. Wie het die sterre gemaak? Hy laat hulle soos ’n leërmag uitmarsjeer, die een ster na die ander, en roep elkeen by sy naam. Met sy groot krag en mag sorg Hy dat nie een wegraak of verdwaal nie. Israel, hoe kan jy dan sê: “Die HERE sien nie my moeilikheid raak nie”? Hoe kan jy beweer: “God weier om na my saak te luister”? Het jy nog nooit gehoor of verstaan nie? Weet jy nie dat die HERE van altyd af God is nie? Hy is die Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg of gedaan nie en niemand kan die dieptes van sy insig meet nie. Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die HERE stel, sal nuwe krag kry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JESAJA 40:18-31