HEBREËRS 12:4-13

HEBREËRS 12:4-13 NLV

Julle het in die geveg teen die sonde nog nie tot die dood toe teenstand gebied nie. Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem.” Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram. Watter kind word nie gedissiplineer nie? As God julle nie dissiplineer soos Hy met al sy kinders doen nie, is julle nie regtig sy kinders nie, maar buite-egtelik. Ons aardse vaders het ons gedissiplineer, en ons het hulle daarvoor gerespekteer. Sal ons ons dan nie nog veel eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en só waarlik lewe nie? Ons vaders het ons vir ’n kort tydjie gedissiplineer soos hulle dit goedgevind het, maar God doen dit beslis tot ons beswil, met die doel om ons te laat deel in sy heiligheid. Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ’n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gedissiplineer is, ’n vredevolle oes oplewer van ’n lewe volgens die wil van God. Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieë wat knak, en maak julle hardloopbane reguit. Dan sal die lam ledemate nie ingee nie, maar eerder beter word.