GENESIS 2:5-17

GENESIS 2:5-17 NLV

was daar nog geen struike of groen gras op die aarde nie, want die HERE God het dit nog nie laat reën nie. Daar was nog nie ’n mens wat die grond kon bewerk nie. Maar water het uit die aarde opgeborrel en so is die grond natgemaak. Toe vorm die HERE God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword. Daarna het die HERE God ’n tuin in Eden in die ooste geplant. Hy het die mens wat Hy geskape het daarin laat woon. Die HERE God het ook verskillende soorte bome uit die grond laat opkom. Dit was mooi bome met heerlike vrugte. Die boom van die lewe het Hy in die middel van die tuin geplant en ook die boom van kennis van wat reg en verkeerd is. ’n Rivier wat in Eden ontspring het, het water na die tuin gebring en daar in vier strome verdeel. Die een, die Pison, loop om die hele land Gawila. Dis die plek wat ryk is aan goud. Die goud is van hoogstaande gehalte en daar is ook balsem en oniks. Die tweede, die Gihon, vloei om die hele land Kus. Die derde een, die Tigris, loop oos van Assirië verby. Die vierde is die Eufraat. Die HERE God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg. Maar die HERE God het hom gewaarsku: “Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, maar van die boom van kennis van reg en verkeerd mag jy nie eet nie. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.”

Video for GENESIS 2:5-17