“Wees versigtig om nie verlei te word en weg te draai van die HERE om ander gode te aanbid nie. As julle dit doen, sal die woede van die HERE teen julle ontvlam. Hy sal die hemel toesluit sodat dit nie reën nie en julle oeste misluk. Dan sal julle gou omkom in die goeie land wat die HERE aan julle gee. Verbind julleself heelhartig aan hierdie woorde van die HERE. Bind die woorde aan julle hande as ’n herinneringsteken en dra dit as ’n teken op julle voorkoppe. Leer dit vir jou kinders. Praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy weer opstaan. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. Dan sal julle en julle nageslag lank, so lank as wat die hemel bo die aarde is, kan bly in die land wat die HERE aan julle voorouers belowe het. “Gehoorsaam noukeurig al hierdie gebooie wat ek vir julle gee deur die HERE julle God lief te hê, volgens sy wil te lewe en Hom aan te hang. Dan sal die HERE al hierdie nasies voor julle uitdryf en julle sal hulle land oorvat al is hulle groter en sterker as julle. Op elke plek waar julle julle voete neersit, sal dit julle s’n word. Julle grense sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanon in die noorde, van die Eufraatrivier in die ooste tot by die Middellandse See in die weste. Niemand sal teen julle kan staande bly nie, want oral waar julle in die land gaan, sal die HERE julle God skrik en vrees voor julle uitstuur, soos Hy beloof het.
Lees DEUTERONOMIUM 11
Deel
Vergelyk alle weergawes: DEUTERONOMIUM 11:16-25
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's