HANDELINGE 9:1-30

HANDELINGE 9:1-30 NLV

Intussen het Saulus met elke asemteug dreigemente uitgespreek. Hy wou die volgelinge van die Here doodmaak, en het daarom na die hoofpriester toe gegaan. Hy het briewe van hom aan die sinagoges in Damaskus gevra waarin hulle versoek word om hom te help om dié wat aan “Die Pad” behoort, mans én vroue, op te spoor, en hulle geboei na Jerusalem toe te bring. Toe hy op sy sending naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel hom omstraal! Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” het hy toe gevra. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg! Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan.” Die mans saam met hom was sprakeloos van verbasing, want hulle het iemand se stem gehoor, maar niemand gesien nie. Saulus het van die grond af opgestaan en alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle is Damaskus in terwyl sy reisgenote hom aan die hand lei. Hy was drie dae lank daar sonder om te sien, en hy het ook niks geëet of gedrink nie. Daar was ’n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ’n gesig geroep: “Ananias!” “Ja, Here!” het hy geantwoord. Daarop sê die Here vir hom: “Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Want kyk, hy is besig om te bid. Ek het hom in ’n gesig laat sien dat ’n man met die naam Ananias inkom en sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias het geantwoord: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het! En ons hoor hy het ’n mandaat van die priesterhoofde om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.” Die Here het egter vir hom gesê: “Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgekies om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel. Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly.” Ananias het toe vertrek en in daardie huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Broer Saul, die Here het my gestuur, Jesus wat aan jou verskyn het op pad hierheen. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” Onmiddellik het iets soos skille van Saulus se oë afgeval en hy kon weer sien. Hy het opgestaan en is gedoop. Hy het toe kos geëet en sy kragte begin herwin. Saulus het ’n paar dae by die gelowiges in Damaskus gebly. Hy het Jesus dadelik in die sinagoges begin verkondig – dat Hy die Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie dié man wat Jesus se volgelinge in Jerusalem vervolg het nie? Dis mos presies waarvoor hy hierheen gekom het: om hulle geboei voor die priesterhoofde te bring!” Saulus se prediking het al hoe kragtiger geword en het die Damaskus-Jode in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na etlike dae het dié Jode saamgesweer om Saulus te vermoor. Hulle komplot het egter aan Saulus uitgelek. Dag en nag het hulle die stad se poorte dopgehou om hom te vermoor. Maar sy volgelinge het hom in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur laat afsak. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie. Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer, maar hulle het planne beraam om hom te vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom Sesarea toe gevat en hom van daar na Tarsus toe weggestuur.