Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was. Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit. Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat! Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome – Jode sowel as proseliete, Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!” Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra. Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê. Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op. Hy het die skare met ’n harde stem toegespreek: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, neem nou deeglik kennis en luister goed na wat ek gaan sê: Julle moet nou goed luister! Party van julle beweer hierdie mense is dronk. Dis nie waar nie! Dis heeltemal te vroeg daarvoor. Mense is nie nege-uur in die oggend al dronk nie. Nee, wat hier gebeur, is waarvan God deur die profeet Joël gepraat het: ‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op elke mens. Julle seuns en dogters sal die woord van God verkondig; julle jongmense sal gesigte sien, en julle oumense sal drome droom. Ja, op die mans en vroue wat in my diens staan, sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal my woord verkondig. En Ek sal wonders gee bo in die hemelruim en wondertekens onder op die aarde – bloed en vuur en rookwolke.
Lees HANDELINGE 2
Luister na HANDELINGE 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: HANDELINGE 2:1-19
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's