HANDELINGE 10:34-48

HANDELINGE 10:34-48 NLV

Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie. In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is. Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig, maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn, nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ont-vang.” Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is. Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing. Petrus het toe gesê: “Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.