2 KORINTIËRS 1:12-24

2 KORINTIËRS 1:12-24 NLV

Ons trots bestaan daarin dat ons gewete saam getuig dat ons teenoor die wêreld, maar in die besonder teenoor julle, opgetree het met die erns en egtheid wat van God af kom. Ons het staatgemaak op die onverdiende goedheid van God en nie op ons eie menslike insig nie. Ons skryf aan julle niks wat julle nie self lees of verstaan nie. Ek hoop net dat julle ten volle sal verstaan waar julle ons tot nou toe net gedeeltelik verstaan het. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal ons trots wees op julle, net soos julle op ons trots sal wees. Met hierdie oortuiging het ek al vroeër beplan om na julle toe te kom sodat julle ’n dubbele geskenk kon ontvang. Ek wou op die deurreis na Masedonië by julle aandoen en weer ’n keer op die terugreis van Masedonië af, om dan met julle hulp verder na Judea toe gestuur te word. Was ek miskien wispelturig toe ek hierdie plan gemaak het? Of doen ek my beplanning volgens menslike oorwegings, met die gevolg dat dit by my gaan oor ’n “ja” as ek eintlik ’n “nee” bedoel? God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie “ja” en terselfdertyd “nee” is nie. Want die Seun van God, Christus Jesus, wat deur ons – dit is deur my, Silvanus en Timoteus – onder julle verkondig is, is nie terselfdertyd “ja” en “nee” nie. In Hom het God se “ja” plaasgevind, want al die baie beloftes van God in Christus Jesus is ’n volmondige “ja”. Daarom is dit ook deur Christus se toedoen dat ons, om God te verheerlik, daarop “Amen” sê. Hy het ons saam met julle op Christus as fondament geplaas, terwyl God ons ook vir Hom afgesonder het. Hy het ons as sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee. Ek roep God as getuie teen my eie lewe, dat ek julle in ag geneem het toe ek nie weer na Korinte toe gekom het nie. Ons wil regtig nie baasspeel oor julle geloofslewe nie, maar ons is tog ook helpers om julle blydskap te bevorder. Julle is tog standvastig in julle geloof.