Toe het Salomo gebid:
“O HERE, U het gesê
dat U in duisternis woon.
Daarom het ek vir U
’n glorieryke tempel gebou,
waar U vir altyd kan woon!”
Daarna het die koning hom gedraai na die hele vergadering van Israel wat voor hom gestaan het en hulle soos volg geseën: “Geseënd is die HERE die God van Israel, wat getrou was aan die belofte wat Hy aan my pa gemaak het. Hy het vir my pa gesê: ‘Sedert die dag toe Ek my volk uit Egipte gebring het, het Ek nooit ’n stad gekies onder die stamme van Israel om te dien as die plek waar ’n tempel tot eer van my Naam opgerig moet word nie. Nog minder het Ek ’n koning gekies om my volk Israel te lei. Maar nou het Ek Jerusalem gekies as daardie stad, en Dawid as daardie koning oor my volk Israel.’”
Salomo het verder gesê: “My pa Dawid wou hierdie tempel tot eer van die Naam van die HERE die God van Israel bou. Maar die HERE het vir hom gesê: ‘Dit is reg dat jy ’n tempel tot eer van my Naam wil bou, maar jy sal dit nie doen nie. In jou plek sal een van jou seuns dit bou.’
“En nou het die HERE gedoen wat Hy beloof het, want ek het koning geword oor Israel in die plek van my pa. Dis tot eer van die Naam van die HERE, die God van Israel, dat ek hierdie tempel gebou het. Ek het die verbondsark hier gesit, en in die verbondsark is die verbond wat die HERE met die volk van Israel gesluit het.”
Daarna het Salomo met sy hande uitgestrek gaan staan voor die altaar van die HERE en voor die hele gemeente van Israel. Hy het ’n bronsplatform van twee en ’n half meter lank, twee en ’n half meter breed en een en ’n half meter hoog gemaak. Dit het in die middel van die voorhof van die tempel gestaan. Hy het op die platform voor die hele gemeente gestaan, en gekniel met sy hande hemelwaarts uitgestrek. Toe het hy gebid: “HERE, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul. En nou, HERE, God van Israel, bevestig tog u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy gedoen het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’ HERE God van Israel, laat tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, vervul word.
“Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde tussen mense sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het! Luister tog na my gebed en smeking, HERE my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar tot U rig. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog.
“As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld moet aflê, hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry soos hy verdien.
“As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek