Samuel neem toe ’n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: “Die HERE het jou gesalf as leier oor sy besitting. Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee persone by Ragel se graf naby Selsag op die grens van Benjamin teëkom. Hulle sal vir jou vertel: ‘Die donkies wat jy gesoek het, is gekry. Nou is jou pa oor jou bekommerd en vra: Ek wonder waar is my seun!’ “Wanneer jy by die groot boom by Tabor kom, sal jy drie persone sien wat opgaan om God by Bet-El te dien. Een sal drie jong bokkies dra, die tweede drie brode en die derde ’n sak wyn. Hulle sal jou groet en twee brode aanbied. Jy moet dit aanvaar. “Daarna sal jy aankom by Gibea-van-God waar die garnisoen van die Filistyne is. Naby die dorp sal jy ’n klompie profete teëkom op pad vanaf die altaar op die hoogte. Hulle sal met begeleiding van ’n harp, ’n tamboeryn, ’n fluit en ’n lier profeteer. Dan sal die Gees van die HERE met krag op jou kom en jy sal soos hulle profeteer en ’n ander mens word. Ná hierdie tekens moet jy doen wat nodig is, want God is met jou. Gaan dan vooruit na Gilgal toe en wag daar vir my. Ná sewe dae sal ek kom om brandoffers en maaltydoffers te bring en verdere opdragte aan jou te gee.” Toe Saul omdraai om te gaan, het God sy hart verander. Al die tekens waarvan Samuel gepraat het, het daardie dag gebeur. Toe Saul en die jong man by Gibea aankom, sien hulle die profete hulle tegemoetkom. Die Gees van God het toe met krag in Saul begin werk sodat hy ook soos ’n profeet opgetree het. Almal wat hom voorheen geken het en gesien het hoe hy soos ’n profeet optree, het vir mekaar gesê: “Wat het dan met die seun van Kis gebeur? Hoe is dit dat Saul ook tussen die profete is?” Iemand uit die omgewing het gevra: “Waarvandaan kom hulle nou eintlik?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?” Toe Saul klaar soos ’n profeet opgetree het, het hy na die altaar toe opgegaan. “Waar was jy die hele tyd?” vra sy oom vir hom en die jong man by hom. “Ons het die donkies gaan soek. Toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan,” antwoord hy. “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.” “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het. Samuel het die hele volk voor die HERE by Mispa bymekaargeroep
Lees 1 SAMUEL 10
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 SAMUEL 10:1-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's