Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie. Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar. Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar. Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie.
En julle, mans, behandel julle vroue met respek.
Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee.
As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.
’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.
Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën. Want die Skrif sê:
“As jy die lewe wil liefhê
en goeie dae wil beleef,
moet jy jou tong weghou
van kwaadpraat
en jou lippe van leuens.
Bly weg van die kwaad af,
ja, doen wat goed is.
Soek vrede,
ja, jaag dit na!
Die Here sorg vir dié
wat reg doen,
en Hy luister na hulle gebede.
Maar die Here is teen dié
wat kwaad doen.”
Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen? Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie. Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.