1 KONINGS 11:1-11

1 KONINGS 11:1-11 NLV

Koning Salomo het baie buitelandse vroue liefgekry. Benewens die farao se dogter het hy vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en uit die Hetiete gehad. Die HERE het duidelik vir die Israeliete gesê: “Julle mag nie met hierdie nasies ondertrou nie. Hulle sal julle verlei om hulle gode te aanbid.” Nogtans het Salomo op hulle verlief geraak. Hy het 700 vroue van koninklike afkoms gehad en 300 byvroue. Hierdie vroue het hom toe inderdaad verlei. Toe Salomo oud geword het, het hulle hom verlei om ander gode te dien. Hy het nie meer die HERE sy God met soveel toewyding gedien soos sy pa, Dawid, gedoen het nie. Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike godin van die Ammoniete, aanbid. Dit wat Salomo gedoen het, was verkeerd vir die HERE. Hy het nie meer die HERE met volle oorgawe gedien soos sy pa, Dawid, nie. Op die heuwel oos van Jerusalem het hy selfs ’n hoogte vir Kemos, die walglike god van Moab, gebou, asook een vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. Salomo het sulke hoogtes vir al sy buitelandse vroue gemaak sodat hulle daar wierook kon brand en offers aan hulle gode kon bring. Die HERE was baie ontevrede met Salomo omdat hy die HERE, die God van Israel wat twee keer aan hom verskyn het, verlaat het. Hy het Salomo uitdruklik gewaarsku om nie ander gode te dien nie. Nogtans het Salomo nie na die bevele van die HERE geluister nie. Die HERE sê toe vir hom: “Aangesien jy die verbond met My verbreek het en ongehoorsaam was aan my opdragte, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou afskeur en dit vir een van jou onderdane gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid