1 KORINTIËRS 1:20-30

1 KORINTIËRS 1:20-30 NLV

Wat het dus geword van die filosowe, die boekgeleerdes, die debatvoerders van hierdie wêreld? God het bewys hoe inherent dwaas die wysheid van hierdie wêreld in werklikheid is. Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red. Die Jode wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke wil ’n vertoon van wysheid hê. Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid. Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God. Hierdie Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon. Broers en susters, dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dwaasheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry. Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk, ja, wat vir die wêreld glad nie ’n faktor is nie, het God uitgekies om wat vir die wêreld wel belangrik is, heeltemal af te skryf. Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie. Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het.