YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 18

18
Hou áán totdat die regter luister!
1Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om aan te toon dat hulle moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. 2Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat God nie geëer en sy medemens nie gerespekteer het nie. 3Daar was ook ’n weduwee in daardie stad wat aangehou het om hom te vra: ‘Laat aan my reg geskied in my saak teen my opponent.’
4“Vir ’n tyd lank was hy onwillig, maar hy het naderhand vir homself gesê: ‘Al eer ek God nie en respekteer ek ook nie my medemens nie – 5omdat hierdie weduwee my so onophoudelik teister, sal ek haar saak behartig, anders sal sy my nog heeltemal gedaan maak.’”
6Toe sê die Here: “Luister net wat sê die onregverdige regter. 7Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes nie – hulle wat dag en nag na Hom roep? Sal Hy aanhou om hulle geduld te toets? 8Ek sê vir julle: Hy sal aan hulle reg laat geskied, en baie gou ook! Nietemin, sal Ek, die Seun van die Mens, wanneer Ek kom, geloof op aarde vind?”
’n Fariseër en ’n tollenaar bid in die tempel
9Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel met die oog op sommige mense wat oortuig is dat hulle saak voor God reg is, maar die ander mense verag het: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. 12Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien!’
13“Die tollenaar het op ’n afstand bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’
14“Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word.”
Aanvaar die koninkryk van God soos ’n kindjie
15Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Die dissipels het gesien wat aangaan, en die mense voor stok gekry. 16Jesus het egter die kindertjies nadergeroep en gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom, en moet hulle nie keer nie, want dit is sulke mense wat deel het aan die koninkryk van God. 17Ek verseker julle, wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie.”
Gee alles prys en volg Jesus om aan God se koninkryk deel te kry
18Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”
19Jesus het gereageer: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, dit is God. 20Jy ken mos die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis aflê nie, en eer jou vader en jou moeder.”
21Hy het geantwoord: “Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.”
22Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: “Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.” 23Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk.
24Toe Jesus sien dat hy so afgehaal lyk, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog nie vir mense wat ryk is aan aardse besittings om aan die koninkryk van God deel te kry nie! 25Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryke om aan die koninkryk van God deel te kry.”
26Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie is dan in staat om verlos te word?”
27Jesus het gereageer: “Dié dinge wat by mense onmoontlik is, is juis by God moontlik.”
28Petrus sê toe daarop: “Kyk, ons het ons eie besittings prysgegee en U gevolg.”
29Jesus het geantwoord: “Ek verseker julle, daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God hulle huis of vrou of broers of ouers of kinders prysgegee het, 30wat nie soveel keer meer in hierdie tyd ontvang nie, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”
Jesus praat weer oor sy komende dood
31Jesus het die twaalf eenkant geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe en alles wat deur die profete opgeteken is oor die Seun van die Mens sal volledig vervul word. 32Hy sal uitgelewer word aan die nie-Jode en bespot, beledig en ook op gespoeg word. 33En nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak. Op die derde dag sal Hy egter weer opstaan.” 34Hulle het egter niks hiervan verstaan nie. Hierdie verduideliking was vir hulle verberg en hulle het nie begryp wat Hy sê nie.
Die blinde van Jerigo kan weer sien!
35Jesus het in die omgewing van Jerigo aangekom. ’n Blinde man het langs die pad gesit en bedel. 36Toe hy die skare hoor wat verbyloop, het hy probeer uitvind wat aan die gang is. 37Hulle het hom toe vertel dat Jesus van Nasaret besig is om verby te loop. 38Die blinde het hard uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U asseblief oor my!” 39Die mense wat vooruit geloop het, het hom bestraf om hom stil te kry, maar hy het eerder nog harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U asseblief oor my!”
40Jesus het gaan staan en opdrag gegee dat die man na Hom toe gebring moes word. Soos hy naderbeweeg, vra Jesus vir hom: 41“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
Sy antwoord was: “Here, dat ek net weer kan sien!”
42Jesus het hom geantwoord: “Sien weer! Jou geloof het jou gered.” 43Eensklaps het die man weer gesien; hy het Jesus gevolg en God geloof. Die hele volk wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.

Currently Selected:

LUKAS 18: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy