YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 9

9
1Ag, ek wens my kop
was soos ’n waterspruit,
my oë soos ’n fontein vol trane.
Dan sou ek dag en nag huil
oor my mense
wat geslag is.#9:1 In die grondteks is dit 8:23.
2As ek maar net ’n herberg
in die woestyn gehad het!
Dan sou ek daarheen ontsnap
en my mense agterlaat.
Want my volk is niks anders nie
as egbrekers
en ’n klomp verraaiers.#9:2 9:2-26 is in die Hebreeuse teks genommer 9:1-25.
Straf vir ongehoorsaamheid
3“Hulle span hulle tong
soos ’n boog om leuens af te vuur.
Hulle praat nie die waarheid nie.
Die onreg wat hulle doen,
raak net al hoe erger en erger.
Hulle gee niks meer
om vir My nie,”
sê die Here.
4“Pas op vir jou vriende!
Moenie jou familie
of volksgenote vertrou nie!
Hulle is almal rugstekers
en versprei vals stories
oor mekaar.
5Vriende lieg
en bedrieg mekaar
en praat nie die waarheid nie;
hulle het hulle tonge
geleer lieg.
Hulle kan nie ophou
sondig nie.
6Hulle hou net aan
om leuen op leuen te vertel.
Hulle weier om enigiets
met My te doen te hê,”
sê die Here.
7Daarom sê die Here, die
Almagtige:
“Ek sal hulle in ’n smeltoond sit
en hulle suiwer soos metaal.
Eintlik laat my volk
My geen ander keuse
as om dit te doen nie.
8Hulle tonge is soos giftige pyle.
Hulle praat baie vriendelik
met hulle vriende,
maar in hulle harte
beplan hulle hulle ondergang.
9Behoort Ek hulle nie
daaroor te straf nie?”
vra die Here.
“Behoort Ek My nie
op ’n nasie soos hierdie
te wreek nie?”
10“Ek sal huil en kla
oor die berge
en die weivelde van die woestyn.
Hulle is verlate,
sonder enige teken van lewe.
’n Mens hoor ook nie meer
die beeste bulk nie.
Selfs die voëls het gevlug
en die wilde diere is weg.
11“Ek sal Jerusalem maak
tot ’n bouval.
Dit sal ’n plek wees
waar die jakkalse graag sal lê.
Die dorpe van Juda
sal spookdorpe wees,
want niemand sal meer
daar bly nie.”
12Is daar iemand wat genoeg insig het om te verstaan hoekom hierdie dinge gebeur? Vir wie het U onderrig sodat hy dit weer vir iemand anders kan verduidelik? Hoekom is hierdie land so erg verwoes dat niemand dit eers wil waag om daardeur te gaan nie?
13Die Here het geantwoord: “Dit is omdat my mense weier om my voorskrifte wat Ek vir hulle gegee het, te volg. Hulle weier om na My te luister en volgens my voorskrifte te lewe. 14Hulle is hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil. Hulle het die Baäls aanbid soos hulle by hulle voorouers geleer het.”
15Luister wat die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Kyk! Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink. 16Ek sal hulle verstrooi onder die nasies wat nóg hulle nóg hulle voorouers geken het. Ek sal hulle met die swaard agtervolg totdat Ek hulle heeltemal uitgewis het.”
Die mense van Jerusalem huil
17Die Here, die Almagtige, sê:
“Dink ’n bietjie na
oor wat aan die gang is!
Roep die vroue wat rouklaag
om treurliedere te kom sing.
18“Maak gou en huil oor ons!
Laat trane vloei uit julle oë.
19Want die geluid van rouklag
word in Sion gehoor:
‘Verwoesting het ons getref!
Ons is verneder,
want ons moet die land verlaat,
en ons huise
het puinhope geword.’”
20Vroue, luister
na die woorde
van die Here.
Hoor baie duidelik
wat Hy sê.
Leer julle dogters
’n treurlied,
leer hulle om klaagliedere
te sing.
21Want die dood het ons huise
binnegekom
deur die vensters.
Kinders speel nie meer
in die strate nie.
Jongmense kom nie meer
bymekaar
op die stadspleine nie.
22Jy moet sê: Die Here sê:
“Lyke sal oral soos mis
op die oop velde lê.
Dit sal lyk soos
bondels graan
wat afgeoes is.
Niemand sal oorbly
om hulle te begrawe nie.”
23Die Here sê:
“Mense met insig moenie
spog met hulle kennis nie.
Sterk mense moenie grootpraat
oor hulle krag nie.
Ryk mense moenie roem
in hulle rykdom nie.
24Laat hulle wat wil grootpraat,
spog dat hulle My ken,
en begryp dat Ek die Here is
wat reg en regverdig is,
wie se liefde onfeilbaar is,
en dat dit ook die dinge is
wat My bly maak.
Ek, die Here, het dit gesê!”
25Die Here sê:
“Die tyd breek aan
wanneer Ek al die mense
wat net uiterlik besny is,
sal straf.
26Dit is die mense van Egipte,
Edom, die Ammoniete,
Moab en die woestynbewoners
wat in afgeleë plekke woon.
Want al hierdie volke
is onbesnede.
Selfs die hele huis van Israel
is onbesnede van hart.”

Currently Selected:

JEREMIA 9: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy