YouVersion Logo
Search Icon

2 KORINTIËRS 8

8
Om ruimhartig te gee is liefdeswerk
1Broers en susters#8:1a Grondteks Broers., ons lig julle in oor die genade#8:1b Of onverdiende goedheid. van God wat die gemeentes in Masedonië ontvang het. 2Al is hulle ook hewig getoets deur swaarkry, het hulle uitermate blymoedig gebly, en hulle groot armoede het uitgeloop op oorvloedige vrygewigheid. 3Ek getuig dat hulle volgens vermoë, ja, dat hulle selfs bo hulle vermoë gewillig was. 4Met groot aandrang het hulle ons gesmeek om te mag deelneem aan die liefdeswerk en diens aan die gelowiges in Judea. 5Dit was nie soos ons dit verwag het nie; eers het hulle hulleself aan die Here gegee, en toe aan ons sodat hulle kon optree volgens die wil van God.
6Daarom het ons by Titus daarop aangedring om hierdie liefdeswerk waarmee hy vroeër begin het, nou ook by julle te voltooi. 7Aangesien julle in elke opsig uitmunt – in geloof, met die woord, kennis, groot ywer en die liefde wat ons aan julle betoon het#8:7 Sommige minder betroubare manuskripte julle liefde vir ons. – munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk. 8Ek sê dit nie as ’n opdrag nie, maar om die egtheid van julle liefde in vergelyking met die ywer van ander te toets.
9Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word. 10Nou gee ek raad oor hierdie saak. Want dit is voordelig vir julle – julle wat nie net die eerste was om iets te doen nie, maar ook heel eerste gewíllig was om iets te doen. 11Voltooi nou die werk sodat julle dit, uit die middele tot julle beskikking, met dieselfde geesdrif kan afrond as dié waarmee julle daarop besluit het. 12As die geesdrif daar is en julle gee volgens wat julle het, is die gawe aanneemlik. Julle hoef nie meer as dit te gee nie. 13Dit beteken egter nie dat hulpbetoon aan ander julle moet laat swaarkry nie. Dit is eerder ’n geval van balans. 14Daar moet ’n balans wees tussen julle huidige oorvloed en hulle gebrek. Dan kan hulle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ’n manier kom daar ewewig. 15Soos daar geskryf staan:
“Die een met baie,
het nie te veel gehad nie;
en die een met ’n bietjie,
nie te min nie.”#8:15 Eks 16:18.
Die eerbare en ywerige Titus en sy medewerkers
16Ek is dankbaar teenoor God dat Hy Titus net so entoesiasties gemaak het om julle te help as wat ons is. 17Hy het nie net ons ernstige versoek verwelkom nie, maar in sy ywer op sy eie na julle toe vertrek. 18Saam met hom stuur ons die broer wat in al die gemeentes geprys word vir sy rol in diens van die evangelie. 19Nie net dit nie, maar die broer is ook deur die gemeentes gekies as ons reisgenoot in hierdie liefdesdiens wat deur ons verrig word. Ons doen dit tot eer van die Here en as bewys van ons goeie trou. 20Sodoende voorkom ons dat iemand ons sou verdink in verband met só ’n aansienlike som geld wat ons moet hanteer. 21Ons is daarop bedag om eerbaar voor die Here op te tree, maar ook voor die mense.
22Saam met hulle stuur ons ook nog ’n broer. Ons het hom dikwels en op baie maniere getoets en bevind dat hy ywerig is. Hy is nou nog baie yweriger omdat hy groot vertroue het in julle.
23Wat Titus betref, hy is my kollega en medewerker in julle belang. Verder, wat ons broers betref, hulle is verteenwoordigers#8:23 Grondteks apostels. van die gemeentes en ’n eer vir Christus. 24Betoon aan hulle julle liefde en laat die gemeentes duidelik sien dat ons rede het om trots te wees op julle.

Currently Selected:

2 KORINTIËRS 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy