EKSODUS 4:10-14
EKSODUS 4:10-14 Bybel vir almal (ABA)
Maar Moses het vir die Here gesê: “Asseblief, Here, ek kan nie goed praat nie. Ek kon nog nooit goed praat nie. Ek kan ook nie beter praat nadat U met my gepraat het nie. Ek praat swaar, my tong sukkel om te praat.” Die Here het vir hom gesê: “Wie het vir die mens 'n mond gegee? Wie maak 'n mens stom of doof? Wie laat hom sien of nie sien nie? Dit is Ek, die Here. Gaan nou, Ek sal jou help om te praat. Ek sal vir jou leer wat om te sê.” Maar Moses het gesê: “Asseblief, Here, stuur iemand anders.” Die Here het toe kwaad geword vir Moses en Hy het gesê: “Die Leviet Aäron is jou broer. Ek weet hy kan goed praat. Hy kom na jou toe, en hy sal bly wees om jou weer te sien.
EKSODUS 4:10-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie 'n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê. Maar hy sê: Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur. Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hý goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.
EKSODUS 4:10-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.” Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens 'n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.” Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien.
EKSODUS 4:10-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Moses het vir die HERE gesê: “Asseblief, my Heer! Ek is nie 'n man van woorde nie, nie in die verlede nie, en ook nie vandat U met u dienskneg gepraat het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. ” Daarop sê die HERE vir hom: “Wie het 'n mond vir die mens beskik, en wie maak stom of doof, siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou! Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” Maar hy sê: “Asseblief, my Heer! Stuur asseblief iemand anders.” Die toorn van die HERE het teen Moses ontbrand en Hy het gesê: “Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet dat hy welsprekend is. Wat meer is, kyk, hy is op pad om jou te ontmoet; en wanneer hy jou sien, sal sy hart verheug wees.
EKSODUS 4:10-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Moses vir die HERE: Ag, my Meester, ek is nie welsprekend nie, ook nie tevore of vandat U met U kneg gespreek het nie; maar ek is traag van spraak en 'n stadige tong. Toe sê die HERE vir hom: Wie het die mond van die mens gemaak? of wie maak die stomme of die dowe of die siende of die blinde? het Ek nie die HERE nie? Gaan dan nou, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê. En hy het gesê: My HERE, stuur tog deur die hand van hom wat U sal stuur. Toe het die toorn van die HERE teen Moses ontvlam, en Hy het gesê: Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet hy kan goed praat. En kyk, Hy kom jou tegemoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.
EKSODUS 4:10-14 Die Boodskap (DB)
“Verskoon my, Here,” sê Moses toe vir die Here, “ek was nog nooit goed met woorde nie. Selfs hier waar ons met mekaar praat haak my tong vas as ek iets moet sê.” “Wie,” vra die Here hom toe, “dink jy maak dit vir mense moontlik om te praat? Wat maak dat party mense stom en ander doof is, dat party blind is en ander weer kan sien? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan tog nou Egipte toe. Ek sal jou mond laat praat. Ek sal die regte woorde in jou mond laat kom.” “Asseblief, Here,” sê Moses weer, “stuur liewer iemand anders.” Die Here het toe kwaad geword vir Moses. “Wat van jou broer Aäron wat uit die familie van die Leviete is?” vra die Here. “Ek weet dat hy flink is met die mond. Hy is al klaar op pad om jou te ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien.
EKSODUS 4:10-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het by die HERE gepleit: “Ag, Here, ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas.” “Wie gee vir die mens ’n mond?” vra die HERE hom. “Wie maak mense stom of doof? Wie laat hulle sien of maak hulle blind? Is dit nie maar net Ek, die HERE, nie? Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê.” Maar Moses het bly pleit: “Here, stuur asseblief tog iemand anders.” Toe het die HERE Hom vir Moses vererg. “Goed,” het Hy gesê. “Wat van jou broer, Aäron, uit die Leviete? Hy kan tog goed praat. Hy is alreeds op pad om jou te kom ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien.