EKSODUS 4

4
Die Here gee vir Moses drie tekens
1Moses het egter bly teëstribbel: “En as hulle my nie glo nie? Hulle sal nie doen wat ek vir hulle sê nie. Hulle sal sommer sê: ‘Jy het nie regtig die Here ontmoet nie.’”
2Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” “’n Herderstok,” antwoord Moses. 3“Gooi dit op die grond neer,” het die Here vir hom gesê. Hy gooi dit toe op die grond en dit het ’n slang geword. Moses het geskrik en hy wou daarvan weghardloop. 4Maar die Here sê vir hom: “Gryp dit aan sy stert!” Toe Moses dit gryp, het dit weer ’n herderstok geword. 5“Hulle sal hierdie teken glo,” het die Here vir hom gesê. “Dit sal hulle oortuig dat jy die Here, die God van hulle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – ontmoet het.”
6Toe sê die Here vir Moses: “Sit jou hand onder jou klere in.” Moses het dit gedoen. Toe hy weer sy hand uithaal, was dit spierwit melaats. 7“Sit nou weer jou hand onder jou klere in,” sê die Here vir hom. Toe hy sy hand uithaal, was dit so gesond soos die res van sy lyf.
8“As die eerste teken hulle nie oortuig het om jou woord te glo nie, dan sal hierdie tweede een hulle oorreed,” het die Here gesê. 9“As hulle ná hierdie twee tekens nog steeds nie oortuig is om jou woord te aanvaar nie, moet jy water uit die Nylrivier skep en dit op die grond uitgooi. Dit sal in bloed verander.”
10Moses het by die Here gepleit: “Ag, Here#4:10 In hierdie vers word twee Name van God gebruik: Jahwe, weergegee met Here, en Adonai, weergegee met Here. Kyk ook by 5:22., ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas.” 11“Wie gee vir die mens ’n mond?” vra die Here hom. “Wie maak mense stom of doof? Wie laat hulle sien of maak hulle blind? Is dit nie maar net Ek, die Here, nie? 12Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê.”
13Maar Moses het bly pleit: “Here, stuur asseblief tog iemand anders.”
14Toe het die Here Hom vir Moses vererg. “Goed,” het Hy gesê. “Wat van jou broer, Aäron, uit die Leviete? Hy kan tog goed praat. Hy is alreeds op pad om jou te kom ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien. 15Jy sal vir hom voorsê wat om te sê. Ek sal julle help om te praat en vir julle sê wat moet gebeur. 16Aäron sal namens jou met die volk praat. Hy sal jou mond wees. Jy sal soos God wees wat vir hom voorsê wat hy moet sê. 17Maak seker dat jy jou herderstok by jou het sodat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek jou geleer het.”
Moses keer terug Egipte toe
18Moses het teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my familie in Egipte. Ek weet nie eers of hulle nog leef nie.”
“Jy kan met graagte gaan,” het Jetro vir Moses gesê.
19Terwyl Moses nog in Midian was, het die Here vir hom gesê: “Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood.”
20Moses het toe sy vrou en seuns bymekaargekry, hulle op ’n donkie laat klim en die reis terug na Egipte toe begin. Hy het die herderstok, waaroor God met hom gepraat het, in sy hand gehou.
21Die Here het weer vir Moses gesê: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao toe gaan. Doen dan die tekens wat Ek jou geleer het. Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. 22Dan moet jy vir hom sê: ‘So sê die Here: Israel is my oudste seun. 23Ek het jou beveel om my seun toe te laat om te gaan om My te aanbid. Jy het egter geweier om hom te laat gaan; daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.’”
’n Bruidegom met bloed beskerm
24Moses en sy gesin het langs die pad oorgeslaap. Die Here het na Moses toe gekom om hom dood te maak. 25Sy vrou, Sippora, het ’n skerp mes gevat en haar seun se voorvelletjie daarmee afgesny. Sy het dit teen Moses se geslagsdeel gedruk en vir hom gesê: “Jy is nou my bruidegom wat met bloed beskerm word.” 26(Toe sy Moses ’n “bruidegom wat met bloed beskerm word” genoem het, het sy na die besnydenis verwys.) Die Here het hom hierna met rus gelaat.
Aäron kom ontmoet Moses
27Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en Moses by die berg van God teëgekom. Hy het hom omhels. 28Moses het vir Aäron alles vertel van die opdrag wat die Here hom gegee het en die tekens wat hy moes doen.
29Moses en Aäron is toe terug na Egipte waar hulle al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep het. 30Aäron het vir hulle van alles vertel wat die Here vir Moses gesê het. Terwyl hulle toekyk, het Moses die tekens gedoen. 31Die leiers was dadelik oortuig dat die Here Moses en Aäron gestuur het. Hulle het almal hulle koppe gebuig en op hulle knieë gegaan toe hulle hoor dat die Here bekommerd is oor Israel en hulle ellende raakgesien het.

Tans Gekies:

EKSODUS 4: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid