2 Kronieke 7

7
Inwyding van die tempel
1Net toe Salomo klaar gebid het, het vuur uit die hemel neergedaal en die •brandoffer en •maaltydoffers verteer, en die heerlikheid van die Here het die •tempel gevul. 2Die priesters kon nie die huis van die Here binnegaan nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here gevul. 3Al die Israeliete het gesien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die tempel neerdaal. Hulle het met hulle gesigte na die grond gekniel op die plaveisel, en in aanbidding gebuig. Hulle het die Here geprys met:
“Want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde.”
4 Die koning en die hele volk was besig om offers voor die Here te slag. 5Koning Salomo het offers van twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee geslag. So het die koning en die hele volk, die huis van God ingewy. 6Die priesters het op hulle plekke gestaan, asook die Leviete met die musiekinstrumente van die Here wat koning Dawid laat maak het om die Here mee te prys met die woorde: “Ja, vir ewig duur sy troue liefde.” Terwyl hulle die loflied van Dawid voorgedra het, het die priesters wat teenoor hulle gestaan het, op hulle trompette geblaas. Die hele Israel het gestaan.
7Salomo het die binnekant van die voorhof wat voor die huis van die Here was, geheilig, want daar het hy die brandoffers gebring, asook die stukke vet van die maaltydoffers, omdat die bronsaltaar wat Salomo gemaak het, nie die brandoffers, •graanoffers en die stukke vet kon bevat nie.
8Salomo het in daardie tyd ook sewe dae lank die Huttefees gevier. Die hele Israel, vanaf Lebo-Hamat tot by die Spruit van Egipte, was saam met hom. Dit was 'n baie groot byeenkoms. 9Op die agtste dag het hulle 'n gewyde rusdag gevier, want die inwyding van die altaar is sewe dae lank gevier, en die Huttefees sewe dae lank. 10Op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand het hy die volk na hulle woonplekke teruggestuur. Hulle was verheug en met opgeruimde harte oor die goeie dinge wat die Here aan Dawid en Salomo en sy volk Israel gedoen het.
Tweede verskyning van die Here aan Salomo
11So het Salomo die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo hom voorgeneem het om in die huis van die Here, en in sy paleis te doen, het hy suksesvol uitgevoer. 12Toe verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My gekies as 'n tempel vir offers. 13 As Ek die hemelruim sluit, sodat daar geen reën is nie, of as Ek die koringkrieke opdrag gee om die land kaal te vreet, of as Ek 'n pessiekte onder my volk loslaat, 14en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees. 15 My oë sal nou oop wees en my ore sal aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek. 16So het Ek dan nou hierdie tempel gekies en geheilig, sodat my Naam vir altyd daar sal wees. My oë en my hart sal altyd daar wees. 17 En jy, as jy voor My leef soos jou vader Dawid geleef het, deur op te tree volgens alles wat Ek jou beveel, en my vaste voorskrifte en beslissings, as jy dit nakom, 18 sal Ek jou koninklike troon laat standhou, volgens die verbintenis wat Ek met jou vader Dawid aangegaan het deur te sê, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek wat in Israel heers nie.’
19“As julle egter van My af wegdraai, en my vaste voorskrifte en gebooie wat Ek aan julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, 20 sal Ek julle uitpluk uit my grond wat Ek aan julle gegee het, en hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek uit my teenwoordigheid verwerp. Ek sal dit tot 'n spreuk en 'n spotnaam maak by al die volke. 21Hierdie tempel wat so verhewe was – elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en vra, ‘Waarom het die Here so iets gedoen aan hierdie land en aan hierdie tempel?’ 22Dan sal hulle antwoord, ‘Omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipteland uitgelei het, verlaat en ander gode aangehang het, in aanbidding voor hulle gebuig en hulle gedien het – dit is waarom Hy al hierdie onheil oor hulle gebring het.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid