1 Petrus 2

2
Oproep tot geestelike groei
1 Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, 2en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, 3noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”.
4Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; 5en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. 6Daar staan immers in die Skrif:
“Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer,
'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar;
maar wie in Hom glo,
sal vir seker nie beskaamd staan nie.”
7Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld,
“Juis die klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoeksteen geword, ”
8en
“'n klip waaroor 'n mens kan struikel,
ja, 'n rots wat jou kan laat val.”
Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem.
9Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig –
10 julle wat eers nie 'n volk was nie,
maar nou volk van God is;
wat eers nie ontferming ontvang het nie,
maar nou ontferming ontvang het.
Oproep tot 'n voorbeeldige lewe onder die heidene
11Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. 12Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het.
13 Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, 14as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. 15God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. 16Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. 17Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer.
Navolging van Christus se voorbeeld
18 Huisbediendes, wees met groot ontsag aan julle werkgewers onderdanig, nie net aan die goeies en vriendelikes nie, maar ook aan die onredelikes. 19Dit is immers genade as iemand, omdat hy met God rekening hou, onregverdig lyding verduur. 20Want watter aanprysing is daar vir julle wanneer julle oortree, lyfstraf ontvang, en nogtans daarmee volhard? Maar as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God.
21Julle is immers hiertoe geroep,
want •Christus het ook
ter wille van julle gely;
Hy het vir julle 'n voorbeeld nagelaat,
sodat julle in sy voetspore kan volg.
22Hy wat “nie sonde gedoen het nie,
en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”;
23 wat, toe Hy uitgeskel is,
nie teruggeskel het nie;
toe Hy gely het,
nie gedreig het nie,
maar Homself toevertrou het
aan Hom wat regverdig oordeel;
24wat self ons sondes in sy liggaam
aan die kruishout gedra het,
sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het,
vir •geregtigheid kan leef –
Hy deur wie se verwonding julle genees is.
25Julle was immers verdwaal soos skape,
maar nou het julle teruggekeer
na die Herder en Bewaker van julle siele.

Tans Gekies:

1 Petrus 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid