Spreuke – eenjaarleesplanSample
Die pa waarsku in die derde plek teen luiheid, ’n deurlopende tema in Spreuke (Spreuke 10:4; 19:24; 20:4; 21:25; 26:16; 30:25; ook Prediker 4:25). Die pa gebruik hier die voorbeeld van die miere wat die enigste tyd benut wat daar vir hulle is om hulle kosvoorraad op te gaar. Dit is tydens die oestyd van die boere in die somer, wanneer daar kos op die dorsvloere beskikbaar is vir die miere. Dit is al tyd wat die miere het om dit te doen, sodat hulle kos het wanneer daar niks meer op die lande is nie. Hulle doen dit sonder iemand wat hulle voorsê.
Daar is dus maar net een manier om gebrek in ’n mens se lewe te voorkom. Dit is deur harde en eerlike werk. Dit leer die miere ons.
Dit is een van die beginsels waarvan Stephen Covey melding het en bekend staan as die "Law of the Farm". Jy kan nie ’n oes verwag as jy nie deeglik beplan en dan die harde werk insit van voorbereiding, bemesting, plant, besproeiing, voeding, onkruidbestryding, beskerming teen peste, en dies meer nie. Geen oes is moontlik sonder die harde werk wat dit voorafgaan nie.
Die pa waarsku sy seun dus teen luiheid. Hy moenie wag dat sy pa vir hom opdragte gee om te werk nie. Hy moet sy werk vanuit innerlike oortuiging doen. Fluksheid sal hom vrywaar van gebrek. Luiheid is dwaasheid. Daardeur bewerk jy jou eie ondergang.
Die Nuwe Lewende Vertaling vertaal vers 10-11 as volg: "Nog ’n bietjie verder slaap, nog ’n bietjie lê en sluimer, nog ’n bietjie hande gevou lê om uit te rus. Skielik oorval die armoede jou soos ’n struikrower. ’n Tekort aan kos oorrompel jou soos ’n gewapende dief."
Scripture
About this Plan
Lees die boek Spreuke in 365 dae deur met hierdie leesplan. Daar is ’n spreuk vir elke dag met ‘n kort beskrywing van die betekenis daarvan. So sal jy ‘n goudmyn van Godgegewe slagspreuke vir jou eie persoonlike lewe ontdek. Dit is ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en opvoeding te gebruik. Geniet dit!
More