YouVersion Logo
Search Icon

NG Universiteitsoord

GROOT VISSE - WEEK 6

GROOT VISSE - WEEK 6

Groter as ’n walvis - Die blouwalvis, of blue whale (Balaenoptera musculus), is ’n fassinerende en indrukwekkende dier, die grootste dier wat ooit op ons planeet geleef het. Hulle kan tot 30 meter lank word en 200 ton weeg. Dit is gelykstaande aan die gewig van 30 olifante! Die hart van ’n blouwalvis, alleen, weeg ongeveer 180 kilogram. Die blouwalvis is sonder twyfel een van die natuur se grootste wonderwerke, en wetenskaplikes leer steeds elke dag nuwe dinge oor hierdie massiewe, merkwaardige wesens. Daar is (met respek gesê) heelwat ooreenkomste tussen die blouwalvis en God se liefde! Dit is fassinerend, dit is indrukwekkend, dit is groot en dit is wyer as wat ons, of Jona se denke toelaat. Elke dag ondek ons iets nuuts oor God se massiewe, merkwaardige liefde, wat nie net mense nie, maar selfs die diere insluit.

Locations & Times

NG UNIVERSITEITSOORD

Duxbury Rd & Herold St, Hatfield, Pretoria, 0083, South Africa

Sunday 9:00 AM

Sunday 6:00 PM

Skriflesing
Jona 4:1-11
1Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.
3“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”
4Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?”
5Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ‘n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur.
6Toe laat die Here God ‘n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.
7Die volgende môre met dagbreek laat God toe ‘n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. 8Toe die son opkom, het God ‘n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”
9Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!”
10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
Groeigroep

Deel met mekaar
1. Deel met mekaar hoe dit met elkeen in die groep gaan. As jy in die week wat verby is ’n boom of ’n plant was, watter tipe boom of plant sou dit wees? Hoekom?

Bid saam:
Laat iemand in die groep vir julle open met gebed. Vra dat die Here deur sy woord en julle saamdink met elkeen sal praat.

Lees, luister en gesels saam
… Vra iemand in die groep om vir julle die teksgedeelte hardop te lees.
… Laat elkeen die teksgedeelte stil op hulle eie weer deurlees.
… Deel twee-twee met mekaar wat jy in die teks hoor, oplet, oor wonder ens.
… Deel met die groot groep wat jou gespreksgenoot in die teks gehoor het.

Vrae vir verdere gesprek
1. Die Jonaverhaal leer ons dat God se liefde groter is as wat ons gedink het. Maak gou ’n lysie van almal in hierdie verhaal (Hoofstuk 1-4) wie deur God se liefde ingesluit is.
2. Is daar dalk iemand, of iets, onverwags op hierdie lysie? Hoekom sê jy so?
3. Kan jy dalk aan ’n paar ander kere in die Bybel dink toe iemand onverwags by God se liefde “ingesluit” is?
4. In vers 9 vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” Hoe voel jy oor die ironie van Jona se woorde?
5. Hoekom dink jy word die woorde “en ook nog baie diere” in vers 11 ingesluit? Wat sê dit van God se liefde?

Uitdaging vir die week
Gaan betoon hierdie week liefde aan iemand wat dit nie van jou sou verwag nie.

Afsluiting
Is daar dalk gebedsversoeke in die groep? Laat iemand in die groep vir julle afsluit met gebed.