YouVersion Logo
Search Icon

Kruik Gemeente

Kruik Oggenddiens 29 Augustus 2021

Kruik Oggenddiens 29 Augustus 2021

Kruik Oggenddiens 29 Augustus 2021

Locations & Times

Kruik Gemeente

Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa

Sunday 7:00 AM

DIE ELKE DAG LEWE... Deel 2

Ek wil vandag begin met ‘n vraag:
Op watter dimensie van tyd is jou gedagtes die meeste gefokus? Op vandag, m.a.w. teenwoordige of op die toekoms of dalk selfs die verlede?
Dink bietjie oor jou antwoord hierop…

Laas week het ons afgeskop met ‘n nuwe kort reeks genaamd, “Die Elke Dag Lewe…” wat die fokus kom plaas op die belangrikheid dat ons God kan raaksien en beleef in die teenwoordige elke dag lewe meer as NET om te fokus op die toekomstige dinge & doelwitte wat ons mag hê of andersins om vasgevang te wees in die gebeurtenisse van ons verlede.

Vandag kyk ons na nog ‘n Nuwe Testament skrywer wat iets verstaan het van die waarde van die elke dag lewe en wat bekend was as die halfbroer van Jesus, genaamd Jakobus. Hy was ‘n prominente kerkleier in die vroeë Kerk was en Sy brief wat mens in die Nuwe Testament kry kan mens amper kan beskryf as die boek van wysheid vd Nuwe Testament. Mens kry die idee dat baie van Jesus se bergprediking en die boek Spreuke ‘n invloed op Jakobus se lewe en leringe kon gehad het: Dit bestaan uit kort kragtige waarhede wat Jakobus wil hê mense moet NOU besef en VANDAG deel maak van hulle elke dag lewe. Ek nooi jou om saam my te lees in Jakobus hfstk 4 oor hierdie elke dag lewe ingesteldheid:

“Kom NOU; luister ’n bietjie na julleself. Julle sê: “Ons gaan sommer nou of miskien MÔRE na daardie stad toe. Daar gaan ons ’n JAAR bly. Ons gaan lekker besigheid doen en sakke vol geld maak.” Sê my, weet jy presies wat MÔRE gaan gebeur? Kan jy dit regtig sê? Dink maar aan die lewe. Dit is so onseker en kortstondig. Dit is soos weerlig wat slaan. Die een oomblik is dit helder daar, maar die volgende oomblik is dit weg. Erken liewer dat die Here julle hele lewe beheer. Sê liewer: “AS ons MÔRE nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.” Jakobus‬ ‭4:13-15‬ ‭DB‬‬

Wat wil Jakobus vir ons hier uitwys vanuit hierdie teks in hoofstuk 4? Ek dink eenvoudig:

1. Leef elke dag afhanklik van God…

Terwyl ons planne en doelwitte kan hê, mag ons besef dat elke dag is genade en ‘n geskenk van God af. Dat die Here ons toekoms in Sy hand hou en ons nooi om NOU vir VANDAG HOM erken in ons lewe. Die asem wat jy het, die gawes, geleenthede en hulpbronne tot jou beskikking is alles geskenke van God af wat nie ‘n reg is wat ons toekom nie, maar ‘n voorreg.
Jesus het hierdie idee van afhanklikheid op Hom ook sterk gepromovieer tydens Sy bediening hier op aarde en ek wil graag vir jou ‘n voorbeeld daarvan uitwys in Joh.15 wanneer Hy kom sê:

“Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei.” Johannes 15:5 BD

Jesus, kom bevestig wat Jakobus geskryf het oor dat ons nooit sal vergeet hoe afhanklik ons eintlik van God is nie. Jesus maak dit duidelik: Sonder My, Jesus, beteken julle lewe eintlik niks, is alles waarna julle na najaag: roem, rykdom of selfs groot & goeie doelwitte, tevergeefs.
Hiermee saam kom wys Jesus ons dat wanneer ons in afhanklikheid van Hom leef, dit juis sal lei tot ‘n vrugbare lewe met betekenis. Dis die paradoks van die boodskap van Jesus: Wanneer ons beheer oorgee aan God, kan God meer aan ons toevertrou en ons lewens bruikbaar wees.

In die Latyns kry mens die eeue-oue frase: “Deo Valente” of afgekort as DV. Hierdie afkorting DV was gebruik op die einde van ‘n brief wat kom sê dat die skrywer van die brief hoop dat hierdie brief, as God wil, veilig by sy bestemming en leser sal uitkom en die brief so sy doell bereik. Deur om DV te skryf op ‘n brief beteken jy ook daarmee saam erken dat dis nie onmoontlik nie dat hierdie brief dalk mag wegraak en nooit uitkom by sy bestemming nie, want die toekoms is onseker en ons nie beheer oor alles het nie.
So, terwyl ons besef die onsekerheid en onvoorspelbaarheid van jou en my toekoms, mag ons VANDAG aangryp en leef in afhanklikheid van God.

Hierdie waarheid, alleenstaande, kan mens dalk die idee gee dat a.g.v. dat ons nie weet hoe ons toekoms mag lyk nie en ons afhanklik van God is, dat ons nou slegs passiewe toeskouers van hierdie lewe is… Blote bystanders en slagoffers van alles wat hierdie lewe ons kan gooi...
Is daar meer in hierdie lewe as om bloot alles in God se hand te sit en vir die beste te hoop?

Gelukkig is daar ‘n groter prentjie oor hierdie elke dag lewe wat Jakobus ook wil hê ons moet insien…. In hierdie selfde brief wat hy skryf oor dat ons in afhanklik van God moet leef, skryf hy ook iets anders baie belangrik… Lees gou saam my in Jakobus hoofstuk 2 meer hieroor:

“Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks. Maar iemand sou kon redeneer: “Party mense het geloof, en ander het dade.” Ek sê: “Wys my jou geloof wat sonder dade is. Maar juis uit my dade sal ek jou my geloof wys.” ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is ’n lyk. So is geloof wat nie dade word nie, ook dood.” Jak.2:17-18, 26 NLV

Dit mag dalk klink of Jakobus homself weerspreek vanuit wat hy in Jak.4 geskryf het, maar eintlik help hy ons om die volle prentjie te kan sien van die elke dag lewe… Ja, ons is afhanklik van God en kan nie sonder Hom leef nie, maar terseldertyd roep hierdie God ons in ‘n gedeelde lewe… ‘n “shared life” saam met Hom deur geloof te leef… Geloof wat nie net kopkennis of mooi praatjies is nie, maar geloof wat iets doen en aanpak. So, die 2de groot uitnodiging vandag is:

2. Leef elke dag deur geloof…

Die konteks waarin Jakobus skryf in hoofstuk 2 het ook baie te doen met ander mense te help. Dat ons nie net passiewe Christene sal wees nie maar saam met God sal werk om ander se lewens te verryk. Dat ons elke dag lewe ‘n verlengstuk kan wees van God se hart en voorsiening vir ander. Dis geloof in aksie.

Rowland het laas week die voorbeeld gebruik van ‘n boer as ‘n verlengstuk van God om vir ons kos op die tafel te voorsien, maar ‘n ander invalshoek wat ons ook kan inneem op hierdie storie is dat enige boer geloof moet beoefen deur om saad te saai as hy ‘n oes wil kry om op te kom. ‘n Boer kan nie net bloot Sy afhanklikheid van God erken vir ‘n goeie oes as die boer nie in geloof gesaai het nie.
Net so, in jou en my lewe word ons genooi om in geloof te saai deur ons lewe met die hoop en vertroue dat dit goeie vrug sal voortbring. Dit laat my dink aan die bekende gedeelte van Paulus in Gal.6 wat hy skryf:

“Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here.” Gal.6:9-10 DB

Dit kom sê: “Terwyl ons nog tyd het…” Ma.w.. Terwyl ons vandag leef, moet ons elke geleentheid benut om in geloof goed te doen aan almal wat ons pad kom… Dat ons elke dag volgers van Jesus sal wees wat elke dag ‘n verskil vir Hom en in ander se lewe sal kan maak.

In die week stuur iemand vir my op ‘n groep ‘n 7 minuut video wat van ‘n man met die naam Michael Crossland. Hy vertel hoe hy op ‘n baie jong ouderdom as seun gediagnoseer is was met ‘n rare glo ongeneesbare kanker volgens die medici. Sy kans vir lewe was baie skraal, maar sy ma het bly glo en vertrou. Na ‘n eksperimentele behandeling, het hy wonderbaarlik herstel van hierdie kanker. En so het Michael die geskenk van elke dag lewe op ‘n jong ouderdom besef en ook groot drome nagestreef o.a. om ‘n professionele baseball speler te word. Op die ouderdom van 12 jaar kry hy egter ‘n hartaanval, maar herstel weer en speel vir sy land se nasionale baseball span, net om op die ouderdom van 18 nog ‘n hartaanval te kry wat sy loopbaan beeindig het. Tog, het hy nie gaan lê nie en ‘n fenominale sukses in die besigheidswêreld toe gemaak en is vandag ‘n internasionale inspirasie spreker. 2 groot verklarings wat hy maak in hierdie video wil ek graag vir jou lees, wat tot ons kom spreek tot die elke dag lewe is:
“I think that life is not about the amount of days that you live on this earth, but what you fit into those days that allows you to live a remarkble life.”“Do something today that your future self will be proud of.” ~ Michael Crossland
Die waarheid is al wat ek en jy het is die geskenk van vandag. Ons kan nie ons verlede terugdraai of alles in ons toekoms beheer nie. Meer as wat ek en jy hierdie waarheid besef, weet die Here dit en dis waarom Hy in jou elke dag lewe teenwoordig en betrokke wil wees.
Die uitnodiging vandag vir jou en my is: Leef elke dag in afhanklikheid van God, want Hy hou jou lewe in Sy hand. Maar ook saam met dit, Leef elke dag deur geloof, want jy kan saam met God werk om ‘n verskil te maak.
BESPREKINGSVRAE:
1. Op watter dimensie van tyd is jou gedagtes die meeste gefokus? Op vandag, m.a.w. teenwoordige of op die toekoms of dalk selfs die verlede?
2. Wat beteken dit vir jou om elke dag afhanklik van God te leef?
3. Wat beteken dit vir jou om elke dag deur geloof te leef?
4. Wat vat jy uit vandag se boodskap saam met jou vorentoe?